Chaos met vuurwapenlisensies knou jagbedryf

  • 11 March 2022
  • 1197
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Talle aansoeke om bestaande vuurwapenlisensies te hernu sloer al twee jaar en langer, en ’n jagter wat ’n nuwe geweer aanskaf, kan van twaalf tot 18 maande, en selfs langer, vir ’n lisensie wag, voordat hy met die nuwe geweer kan gaan jag.

Impak op die plaaslike jagbedryf

Fred Camphor, hoof uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV), bevestig dat die situasie kommerwekkend is, die wildbedryf seermaak en dit vir jagters moeilik maak om hul sport te beoefen.

Volgens Camphor verteenwoordig die jagbedryf een van die belangrikste pilare wat die hele wildbedryf ondersteun. Wildtelers voorsien hoofsaaklik teeldiere vir trofee- en biltongjag terwyl die wildsvleis- en ekotoerismebedryf kwalik sterk genoeg is om die groot beleggings wat wildtelers gemaak het, te regverdig.

Om hierdie redes is die gesloer met vuurwapenlisensies ʼn groot bekommernis. Die agterstand vir bevoegdheidsertifikate en die uitreiking van nuwe vuurwapenlisensies is tans tussen twaalf en 18 maande en langer. Dat daar wel enkele gevalle is waar ʼn aansoeker sy lisensie ná sowat drie weke kry, is ʼn geval van ʼn blinde hoender wat ook soms ʼn pit raak kan pik, meen Camphor.

Hernuwings van bestaande lisensies kan tot twee jaar duur. Camphor sê hy het self in Oktober 2019 ʼn hernuwingsaansoek ingedien, en eers op 15 Januarie 2022 ʼn SMS-boodskap ontvang dat die nuwe lisensie gereed is. Daarby beloop die goedkeuring van bevoegdheidsertifikate, wat nodig is voor jy aansoek vir ʼn lisensie of die hernuwing daarvan kan doen, van twaalf tot 18 maande.

Covid-19 en verhuising van kantore vererger die agterstand

Hy sê die probleem begin by talle polisiestasies, provinsiale kantore van die vuurwapenregister en die sentrale vuurwapenregister, waar aansoeke by elke punt kan vashaak. Die Covid-19-pandemie het dié probleme vererger. Wanneer ʼn lid van die personeel by enigeen van dié punte die siekte opdoen en positief daarvoor toets, sluit die hele eenheid vir 14 dae. Die werk staan dan stil, aansoeke hoop verder op en die wanorde raak erger.

Daarby het die sentrale vuurwapenregister onlangs na ʼn nuwe gebou verhuis. Die hope aansoeke wat nie behoorlik geliasseer was nie, is waarskynlik in ʼn groter chaos in die nuwe gebou geberg, wat die verwerking daarvan moontlik verder kan vertraag.

Risiko’s vir jagters

Dit is weliswaar só dat ʼn bestaande vuurwapenlisensie ná die vervaldatum geldig bly as die aansoek om hernuwing betyds ingedien is, maar in die praktyk skep dit probleme. Wanneer ʼn mens aansoek doen vir die hernuwing van ʼn lisensie, kry jy ʼn kwitansie wat bevestig dat die aansoek ingedien is. Op die kwitansie is daar egter geen besonderhede van die vuurwapen nie.

As ʼn jagter dan sy geweer inpak vir ʼn jagtog en die kwitansie gereed het wanneer die polisie hom voorkeer, kan die polisiebeampte egter besluit dat die geweer ongelisensieer is en die jagter in hegtenis neem. In die hof word die saak gewoonlik uitgegooi, maar die naweek in ʼn polisiesel is dan gedane sake.

Die SAJWV poog voortdurend om die situasie te help beredder en het die saak al onder die aandag van president Cyril Ramaphosa gebring. Die lig in die tonnel lyk egter eerder na ’n treinongeluk wat nie gou opgeruim kan of gaan word nie, sê Camphor.

* Die artikel het oorspronklik op die AgriOrbit-platform verskyn. 






Related Articles