Elke probleem het sy oplossing | Anje Lubbe

  • 10 August 2022
  • 1047
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Ter viering van Vrouemaand kuier Senwes by ʼn paar #ImmerGroenVroue in sy bedieningsvoetspoor. Eerste aan die beurt is Anje Lubbe van die plaas Klipkuil in die Makwassie-distrik.

Vir Anje, wat onder meer ʼn gekwalifiseerde sjef is, ʼn graad in fotografie én ʼn diploma in onderwys het, was voltyds boer nooit werklik deel van die plan nie. Sy vertel dat sy in 2017, na die skielike afsterwe van haar pa, Buks Lubbe, die besluit geneem het om terug te kom plaas toe en haar hand aan die familieboerdery te waag. Haar pa het vir 41 jaar suksesvol op die plaas geboer.

“Ek moes baie vinnig al die fasette van die boerdery leer ken,” onthou Anje en voeg by dat sy sommer vinnig die waarde van goeie kommunikasie en betroubare vennote besef het. In dié proses het die leergierige Anje die meeste gemaak van alle inligting en kennis wat sy kon inwin en het sy van kundiges in die bedryf gebruik gemaak om haar in haar nuwe avontuur te ondersteun. As ʼn aktiewe lid van die Agri Makwassie Landbouvereniging, neem Anje voorts deel aan studiegroepe en inligtingsdae.

 “Ek glo vas dat daar vir elke probleem ʼn oplossing bestaan, en in die landbou is dié ingesteldheid baie belangrik omdat jy jou boerdery soos ʼn besigheid bestuur”.

Anje se boerderyvertakkings bestaan uit ʼn saaiboerdery en ʼn braaikuiken-boerdery en sy is van plan om in die toekoms haar braaihoender-boerdery uit te brei en die plaas se boerdery-aktiwiteite te meganiseer.

In 2022 het ʼn groot eer Anje te beurt geval toe sy as ʼn finalis in Agri Noordwes se Jongboer van die Jaar-kompetisie aangewys is. Op hierdie prestasie is sy sommer baie trots en sy meen dit is ʼn eer en ʼn voorreg om as vrou hierdie tipe erkenning te kry vir die rol wat sy in die landbousektor speel. Dit is juis hierdie erkenning wat haar motiveer om, veral gedurende Vrouemaand, op te staan vir haarself en ander vroue ten einde die boodskap van bemagtiging oor te dra.

Sy beskou haar ma, Marie Lubbe, en haar sussie, Madelene Van Zyl, as haar grootste ondersteuners en raadgewers. “My ma het al die jare saam met my pa geboer, en ek het die wêreld se respek vir alle vroue wat saam met hulle mans boer, omdat ek eerstehands ervaar het dat dié vennootskap soveel meer as ʼn liefdestaak is, dit is ʼn leefwyse”. Haar sussie is ook ʼn boervrou in eie reg, en het saam met hul ouers ʼn Charolais-stoetery op die been gebring. 






Related Articles