Dié verlaging in pryse is te danke aan ʼn toename in produksie en voorrade van groente-olies.
Volgens Thomas Mielke, uitvoerende hoof van die markontledingsdiens Oil World, is die hoë pryse wat tans ondervind word nie volhoubaar nie en is daar reeds aanduidings dat pryse begin om te daal. Hy voeg by dat daar beslis potensiaal bestaan vir ʼn groter afwaartse aanpassing in die nabye toekoms.
Vanweë die huidige hoë pryse het verbruikers, volgens Mielke, hul verbruik van eetbare olies verminder terwyl produsente terselfdertyd hul aanplantings wêreldwyd met 9 miljoen hektaar vergroot het. Dié tendens gee daartoe aanleiding dat dit voorsien word dat die tien vernaamste oliesade se produksie met 25 miljoen ton verhoog sal word tot ʼn nuwe hoogtepunt van 611 miljoen ton.
ʼn Toename in produksie van sowat 7 miljoen ton van sonneblomsaad, palmolie, sojabone en raapsaad, soos wat dit in die 2021-2022-seisoen daaruit sien, verteenwoordig die grootste groei in dié sektor in vier jaar.
Hoewel die pryse van olies sal afneem, voorspel Mielke dat die pryse van oliekoek na verwagting relatief hoër sal wees.
Sonneblomsaad
Wat sonneblomsaad betref was die afname in produksie van 5,3 miljoen ton wêreldwyd gedurende die 2020-2021-seisoen die grootste ooit, en die verwagting is dat produksie vanjaar met 7 miljoen ton tot 57,7 miljoen ton sal toeneem.
Die Oekraïne dra 17 miljoen ton tot dié totaal by, gevolg deur Rusland met 15,3 miljoen ton en die Europese Unie met 10,5 miljoen ton.
Palmolie
Die produksie van palmolie was reeds gedurende die vorige seisoen ongeveer 1,4 miljoen ton groter en verdere groei van sowat 4 miljoen ton word vir hierdie seisoen voorspel. Volgens Mielke kan die tekort aan nuwe aanplantings die afgelope drie jaar opbrengste belemmer, terwyl ʼn tekort aan arbeiders ook as ʼn uitdaging beskou word.
Sojabone
Aansienlike groei word in die produksie van sojabone in die vooruitsig gestel. Produksie sal na raming met 17 miljoen ton toeneem tot 379 miljoen ton.
Dit word voorts voorspel dat die produksie van sojabone vinniger sal toeneem as die verbruik en sojabone sal 62% van alle oliesade verteenwoordig.
Wêreldwyd kan weersomstandighede, Covid-19, energiepryse en lande se vermoë om in te voer as moontlike uitdagings beskou word.
Raapsaad en kanola
Die produksie van hierdie olie-groepe het vanjaar tot en met 62 miljoen ton gedaal, die laagste vlak in 13 jaar.