Volgens dr Odendaal kan die verwagte styging in bloutong-uitbrekings toegeskryf word aan goeie somerreën, verhoogde temperature en 'n voortslepende gebrek aan entstowwe wat deur Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) verskaf moet word.
Bloutong hou 'n ernstige gevaar in vir skaapproduksie in Suid-Afrika en die voorkoms van die siekte sal na verwagting merkbaar eskaleer gedurende die res van die somer en vroeg in die herfs van 2023.
Dr Odendaal is van mening dat die vervaardiging van entstowwe deur die private sektor die enigste werkbare manier is om die langtermyn impak van die gebrek aan entstowwe aan te spreek. Hy verduidelik dat ‘n proses om entstowwe te ontwikkel sowat vyf jaar gelede deur die private sektor onderneem is, en dat daar gedurende hierdie tyd bloedmonsters regoor die land versamel is ten einde ‘n entstof te ontwikkel. Ongelukkig het die registrasie van dié produk in ‘n lang en uitgerekte affêre ontaard, met die gevolg dat daar tans nie enige resultate is om te toon nie.
In die lig hiervan doen dr Odendaal ‘n beroep op georganiseerde landboustrukture om met die betrokke owerhede oor dié aangeleentheid in gesprek te tree, ten einde die nasionale skaapkudde te beskerm. “Daar is geen behandeling teen die siekte nie. Die doel van die behandeling van besmette diere is om hulle beter te laat voel totdat hulle immuniteit teen die virus ontwikkel het. Inenting is die doeltreffendste manier om verliese te minimaliseer,” sê dr Odendaal.
Meer oor die bloutongvirus
Bloutong is ‘n akute insekgedraagde virussiekte by skape. Die orbivirus, wat bloutong veroorsaak, het 24 tipes (stamme) bloutongvirusse waarvan 21 in Suid-Afrika voorkom. Bokke, beeste en wild is ook vatbaar vir bloutong, maar kliniese (sigbare) tekens word selde gesien.
Die virus word deur muggies, wat veral in die laaggeleë dele by riviere en vleie uitbroei wanneer dit vogtig en warm is, oorgedra.
Bloutong is seisoengebonde en kom in die middelsomer en herfs voor, totdat die eerste ryp val. Die bloutongvirus oorwinter veral in beeste. Inheemse skaaprasse soos die Namakwa-Afrikaner, Swartkoppersie en die Karakoel, is minder vatbaar vir bloutong. Europese rasse soos die Merino is weer baie vatbaar.
Warm en vogtige weersomstandighede bevorder die uitbroei van die muggies in hulle natuurlike blyplek veral in laagliggende areas soos veral vleie, om panne, damme en riviere. Skape wat in sulke areas wei, se risiko om bloutong te kry, is baie groot. In sekere dele in Suid-Afrika waar strawwe ryp voorkom, verdwyn bloutong tussen Junie en Desember.
Siektetekens
Nadat die muggie die skaap gebyt het (bloedsuig) en die skaap met virusse besmet het, begin die skaap na 4-6 dae ‘n koors ontwikkel (40,5 tot 42 grade C). Ander algemene siektetekens van bloutong is lusteloosheid, aptytverlies en vinnige asemhaling. Die slymvliese van die oë, neus en bek word rooi en die lippe begin swel. Die slymvliese van die bek en die tong kry later ‘n blourooi kleur en vlak seertjies kom voor op die bekslymvlies waar dit oor die tande skuur, asook in die neusslymvlies.
Die blou verkleuring van die tongslymvlies het tot die naam "bloutong" aanleiding gegee. Wanneer die onderste en die boonste lip met die vingers vasgevat en omgedop word, kan die seertjies duidelik gesien word. Weens die wegkrimping van die spiere word dikwels gevind dat die nek van so ‘n skaap later krom trek. As gevolg van die ontsteking in die neusslymvlies is die neusgate vuil en aangepak sodat die skaap moeilik asemhaal.
Hoefkroonontsteking kom voor waar die hoef aan die vel vaskom. Gevolglik is die skape styf en loop hulle moeilik. Die pote kan só seer word dat hulle selfs op hul knieë probeer loop en uiteindelik bly lê. Hoefkroonontsteking kan gesien word as ‘n rooi lyn waar die vel aan die hoef vaskom. Dit is duideliker sigbaar aan die agterkant van die hoef.
Om die hoefkroonontsteking duidelik te kan sien, moet die hoef deeglik met ‘n nat lap skoongemaak word. Die ontsteking is ook duideliker sigbaar by ‘n ligte hoef as by ‘n donker een. ‘n Breek word ook in die wol aangetref, en skape kan soms selfs hul hele vag verloor. Die abnormale wolgroei, wat die gevolg is van ‘n velontsteking (dermatitis), word 3-6 weke na die siekte voorgekom het, eers waargeneem.
Behandeling
‘n Veearts moet onverwyld genader word sodat die korrekte behandeling vir siek skape gegee kan word. Dit is belangrik om die skape simptomaties te behandel. Die skaap se bek en tong is gewoonlik te seer om te vreet en sy pote te seer om te loop en kos te soek.
Die eerste behandeling is dus om die diere in ‘n klein kampie te sit waar skaduwee, groenvoer en water naby is. Hulle moet so min moontlik gehanteer word. Koorswerende middels en pynstillers kan ook gebruik word. Omdat daar baie vog op die longe is, is die diere geneig tot longontsteking vanweë sekondêre bakteriese besmetting. Om dié rede word aanbeveel dat so ‘n skaap met ‘n antimikrobiese middel behandel word.
Immuniteit
Die 21 tipes (stamme) bloutongvirusse in Suid-Afrika verskil almal immunologies van mekaar. Indien ‘n skaap met een tipe virusentstof geënt is, sal dit nie beskerming teen ‘n ander tipe virus-besmetting gee nie. Skape moet teen al die tipes virusse ingeënt word vir totale beskerming.
As ‘n skaap bloutong gekry het van ‘n spesifieke stam van die virus, kan hy weer bloutong opdoen wat deur enige van die ander bloutongvirusstamme veroorsaak is, in welke geval die siekte gewoonlik matiger sal wees. Kruis-immuniteit tussen bloutongvirusstamme is swak, en daarom word soveel stamme moontlik in die entstof ingesluit.