Minister Didiza se aankondiging rakende die verbod op die vervoer van beeste na die bek-en-klou uitbrake het egter tot gevolg dat minder beeste waarskynlik deel van die ekspo sal uitmaak. As lewendehawe-ekspo is die fokus op alle lewendehawe wat onder andere skape, bokke, varke en perde insluit, sowel as honde en pluimvee – wat op die stadium nie deur die verbod geraak word nie. Die jag- en buitelewe komponent word uit die aard van die saak ook glad nie beïnvloed nie, en die organiseerders is opgewonde oor die eerste aanbieding van NAMPO Alfa.
As verantwoordelike rolspelers in die lewendehawe bedryf sal die organiseerders aan alle reëls en regulasies soos deur die minister afgekondig, voldoen. Alle bio-sekuriteitsprotokolle is reeds in plek en sal net nóg meer nougeset toegepas word om die risiko so goed as moontlik te bestuur. Hierdie protokolle is reeds suksesvol tydens die Bloemskou en NAMPO toegepas. Die organiseerders werk ook saam met industrieleiers en staatsinstellings in hierdie verband.
Tans vind NAMPO Alfa buite die verbod tydperk van 21 dae plaas. Nietemin, het die organiseerders verantwoordelik besluit om beesgetalle so vêr as moontlik te beperk en slegs projekte te akkommodeer waar risiko’s effektief bestuur kan word deur middel van protokolle in samewerking met veeartse. Gelukkig leen die aard van die ekspo en onderskeie projekte hul daartoe om goeie bestuur toe te pas.
Die projekte wat wel groter risiko’s inlaat en moeiliker bestuur, word afgestel en aanlyn voortgesit. Daar kan dus nou meer nougeset gefokus word op die toepassing van die protokolle op hierdie projekte en kan ook dien as ʼn platform om die effektiewe toepassing van bio-sekuriteitsprotokolle ten toon te stel.
Die kleinveeprogram gaan voort soos beplan. Dit sluit deelname van meeste kleinveerasse in Suid Afrika in, wat deelneem aan ʼn verskeidenheid kleinvee projekte. Dit geld ook vir die vark-, pluimvee- en perde programme. Hier sal die protokolle steeds nagekom word, in oorleg met kundiges en veeartse.
Indien daar verdere of veranderinge in die aankondigings rakende regulasies sou wees, sal die situasie herevalueer word en besluite dienooreenkomstig aangepas word.
“Ons is baie opgewonde om die nuwe NAMPO Alfa ekspo aan te bied en daar gaan vir almal iets wees om na uit te sien. Daar is ʼn groot verskeidenheid van hoë gehalte jag- en buitelewe uitstallers. Hinterland het gehelp om ʼn skietbaan te bou, waar praktiese demonstrasies kan plaasvind gedurende die skou, met selfs die moontlikheid van kompetisies” sê dr Dirk Strydom, Graan SA se Hoof: Nampo, Bemarking en Navorsing Koördinering.
“Besoekers kan ook oor die 4x4 baan ry en ʼn gevoel van die voertuie in veldtoestande kry. Die doel van die ekspo is bowenal om aan elke besoeker ʼn praktiese ervaring te bied. ʼn Hoogtepunt is laastens die nasionale veldwedren, waar talle bekende renjaers in aksie gesien kan word”, het Strydom afgesluit.