Ninette van Zyl | Groenteboer se hart klop warm vir gemeenskap

  • 30 August 2022
  • 867
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



In die skadu van Senwes se Losdoorns Silo in die Wesselsbron-distrik vind jy die Itokisetseng plaasskool, en dit is hier waar Ninette van Zyl as groenteboer in die kleine, harte aanraak, haar gemeenskap help versorg en toesien dat jong kinders se magies elke dag vol kom.

Ninette is sedert 2019 betrokke by Senwes se Thobo Trust Groentetuinprojek en verskaf nie net vars groente aan die skool se voedingsprojek nie, maar help ook om fondse vir die skool te in deur groente aan die Welkom Varsproduktemark te lewer. Hierdie groente word op 1,5 hektaar grond langs die skool verbou.

Meer oor die groentetuinprojek

Senwes het in 2018 vir Ninette en haar man, Thabo, genader oor hul moontlike betrokkenheid by ʼn landelike-ontwikkelingsprogram ten bate van die skool.

Senwes het deur sy sosio-ekonomiese ontwikkelingsvennoot, Thobo Trust, toegesien dat die nodige infrastruktuur daargestel word en ʼn jaar later het Ninette, haar drie tuinmanne en ʼn handvol vrywillige werkers begin om die groentetuin aan te lê.

Sy onthou dat dit geen maklike taak was om die 20 000 koolplantjies te plant nie, omdat dit ʼn besondere droë Januarie was en dat hulle nie oor so baie water beskik het as wat sy aanvanklik gedink het nie. Gelukkig het die gemeenskap ingespring en water is aangery om die eerste saailinge te red. Asof dié uitdaging nie groot genoeg was nie, moes Ninette – ʼn gekwalifiseerde veearts, boonop baie vinnig alles moontlik oor die plant-en oesproses leer.

Volgens Ninette gaan dit sedertdien al makliker en sy is opgewonde oor die potensiaal van die projek nadat hulle in Maart vanjaar ʼn nuwe boorgat op die perseel geboor het. En soos die geval was in 2019, het die boere van die gemeenskap weereens moue opgerol en met die ontwikkeling van die boorgat gehelp.

Tans produseer Ninette en haar span kool en tamaties vir die mark, terwyl hulle spinasie, beet, groenboontjies en pampoen vir die skool se kosbehoeftes kweek. Die inkomste wat op die mark gegenereer word, word deur Thobo Trust bestuur en vir die skool se doeleindes aangewend.

 Die vreugde van groei en gee

Daar is vir Ninette niks lekkerder as om in die skool se groentetuin te werskaf nie, en eerstehands te sien hoe die plantjies groei en floreer. Nóg lekkerder is die wete dat sy help om vars groente op die tafel te sit vir jong ontwikkelende kinders.

Ninette meen plaasskole is van onskatbare waarde in die breë gemeenskap. Nie net maak hierdie skole dit vir kinders moontlik om vanuit hul ouerhuise skool te gaan nie, maar hulle vind ook baat by die plattelandse skoolsisteem van kleiner klasse met meer individuele aandag vir elke kind.

As daar een les is wat sy graag vir die leerders van die Itokisetseng plaasskool wil leer, is dit dat harde werk vrugte afwerp. “Ek is baie op die lande en die kinders sien my en my span gedurende pouses, en dit is my hoop dat hulle die waarde van toewyding sal raaksien en sal begryp dat harde werk beloon word”, sê Ninette.










Related Articles