OBP stel lys van beskikbare entstowwe bekend

  • 08 December 2022
  • 739
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Volgens dr Bethuel Nthangeni, tussentydse uitvoerende hoof van die OBP is die maatskappy bewus van kliënte se kommer oor die beskikbaarheid van sekere kritieke entstowwe vir die naderende inentingseisoen. Hy gee kliënte, by monde van die verklaring, die versekering dat met behulp van data vanaf die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD), die OBP daarin kon slaag om pro-aktief op te tree teen siekte-uitbrekings wat na alle waarskynlikheid – as gevolg van die oorvloed reën in sekere dele van die land, sal voorkom.

Die entstowwe wat reeds vervaardig en beskikbaar gestel is, sluit in:

  • Afrika-perdesiekte-entstof. Hierdie entstof het reeds gehaltebeheertoetsing ondergaan.
  • Bloutong-entstof sal voor 20 Desember beskikbaar wees.
  • Entstof vir knopvelsiekte is reeds in voorraad.
  • Afrika-rooiwater, Asiatiese-rooiwater, bosluisgedraagde galsiekte en Hartwater-entstowwe is reeds beskikbaar.
  • Slenkdalkoors-entstof is beskikbaar en daar word tans nog voorraad vervaardig wat teen die einde van Januarie 2023 beskikbaar sal wees.

Nthangeni sê voorts, gedagtig aan beweringe van finansiële ongerymdhede, verouderde infrastruktuur en ʼn onvermoë om aan sy mandaat te voldoen, dat die maatskappy hard werk aan sy instandhoudingsprogram en die herstel van toerusting en die instelling van ʼn volhoubare kontinuïteitstrategie.

Laasgenoemde is nodig om toekomstige produksie-onderbrekings te voorkom. “Die OBP is trots daarop dat die beskikbaarheid van entstowwe sal help om te verseker dat uitbrekings van siektes voorkom word, en moedig produsente aan om dadelik in te ent wanneer die entstowwe beskikbaar word,” sê Nthangeni.






Related Articles