Oppervlakteskatting oortref verwagtinge

  • 31 January 2022
  • 1470
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Volgens die nasionale oesskattingskomitee (NOK) se mees onlangse voorlopige oppervlakteskatting het boere 4,21 miljoen hektaar in die somerreëngebied beplant, wat 3% minder is as hul voornemens aan die begin van die seisoen, maar steeds 0,4% meer is as die vorige seisoen.

Daar is ʼn afname in die aanplantings van mielies, sorghum, grondbone en droëbone.

Sonneblom en sojabone

Die aanplantings van sonneblom is 21% meer as die vorige seisoen op 580 000 hektaar en die geskatte oppervlakte beplant met sojabone is 910 000 hektaar, wat ʼn toename van 10,02% of 82 900 hektaar verteenwoordig. Dit is die grootste oppervlakte beplant met sojabone in die geskiedenis van Suid-Afrika.

Mielies

Wat kommersiële mielies betref, is die voorlopige oppervlakte-skatting 2,6 miljoen hektaar, wat 5,3% of 145 700 hektaar minder is as die 2,8 miljoen hektaar wat verlede seisoen beplant is. Dit is ook 4,2% minder as die plantvoorneme van Oktober 2021. Die voorlopige oppervlakte onder witmielies is 1,6 miljoen hektaar, wat ʼn afname van 6,9% verteenwoordig vergeleke met die vorige seisoen. In die geval van geelmielies is die oppervlakteskatting 1 miljoen hektaar, wat 2,8% minder is as die vorige seisoen.

Grondbone

Vir grondbone is die oppervlakteskatting 34 000 hektaar, wat 11,8% minder is as die vorige seisoen.

Sorghum

Die oppervlakteskatting vir sorghum het afgeneem met 28,9% tot 35 000 hektaar.

Droëbone

Vir droëbone is die geskatte oppervlakte beplant 42 450 hektaar, wat 10,4% laer is as die vorige seisoen.

So reageer Agbiz

Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, sê die oppervlakteskatting is ʼn verligting vir baie waarnemers, wat Agbiz insluit, omdat hulle minder aanplantings verwag het.

Sihlobo sê nou dat data oor die aanplantings bekend is, sal die aandag na opbrengste verskuif. Die vernaamste graan en oliesade soos mielies, sojabone en sonneblomsaad se gemiddelde opbrengste oor tien jaar is 5,02 ton per hektaar, 1,78 ton per hektaar en 1,3 ton per hektaar.

“Die verwagting is dat opbrengste in dele van die Vrystaat, Noordwes, KwaZulu-Natal ʼn die Oos-kaap, waar daar baie reën was, laer as die vorige seisoen sal wees. Suid-Afrika benodig ʼn nasionale opbrengs van 4,6 ton per hektaar om ʼn mielie-oes van 12 miljoen ton te hê om in die plaaslike verbruik te voorsien,” verduidelik Sihlobo.

* Die eerste produksieskatting vir somergewasse word op 28 Februarie bekend gemaak. 






Related Articles