Optimistiese prentjie vir nuwe plantseisoen geskets

  • 11 August 2022
  • 885
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Weervooruitsigte

Volgens die Australiese buro vir meteorologie is daar tekens in die atmosfeer en Stille Oseaan wat gunstig vir ʼn La Niña-toestand is. Daarvolgens is daar ʼn kans van sowat 50% dat ʼn La Niña later in 2022 kan vorm, wat dubbel die normale waarskynlikheid is. Die Suid-Afrikaanse weerdiens het ʼn soortgelyke verwagting vir sy vooruitskouing van Julie tot November.

Sihlobo maan egter dat dit nog vroeg is en dat meer data, veral wat die weer betref, nodig is om werklik ʼn geheelbeeld te vorm. Suid-Afrika het goeie reën, veral van Oktober 2022 tot Februarie 2023 nodig, vir gewasverbouing, veeboerdery en tuinbougewasse. Vir nou is die beskikbare aanduidings egter bemoedigend.

Gewaspryse

Volgens Sihlobo bestaan die verwagting dat Suid-Afrikaanse mielie-, sojaboon- en sonneblompryse later in die jaar laer as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar sal wees.

Hy wys daarop dat pryse vir geel-en witmielies op 4 Augustus op ʼn jaargrondslag onderskeidelik 26% en 32% hoër was, en teen R4 156/ton en R4 161/ton verhandel het. Op dieselfde dag was sonneblom en sojabone onderskeidelik 12% en 16% hoër op ʼn jaargrondslag teen R10 200/ton en R8 454/ton.

Die voorlopige raming deur die Amerikaanse departement van landbou vir Suid-Afrika se 2022-’23 mielie-oes is aanplantings van 2,6 miljoen hektaar, wat heelwat hoër is as die tienjaargemiddelde van 2,5 miljoen hektaar. ʼn Opbrengs van 5,7 ton/ha word voorspel in die lig van die verwagte gunstige weersomstandighede. Dit beteken ʼn oes van 14,8 miljoen ton, wat ietwat hoër is as die huidige oes van 14,7 miljoen ton.

Trekkerverkope

Sihlobo sê dat trekkerverkope in die eerste helfte van die jaar 18% hoër was as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar met 4 133 eenhede wat verkoop is. Stroperverkope was 213 eenhede, wat 37% hoër is.

Hierdie toename word toegeskryf aan die goeie produksie in die sektor oor die afgelope twee jaar sowel as hoër kommoditeitspryse. Hy meen voorts dat goeie vooruitsigte vir die komende seisoen produsente kon aanmoedig om in bates soos trekkers te belê. Dié optimisme kan ook gesien word in die sakevertroue-indeks van Agbiz en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie wat op 60 punte in die tweede kwartaal gestaan het.






Related Articles