Plantmelk al amper so gewild soos die ware Jakob

  • 24 August 2021
  • 1582
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Die meeste van ons het al gehoor van kokosneutmelk, sojamelk en amandelmelk, maar die plantmelkbedryf is baie divers, en sluit onder meer in bruinrysmelk, haselneutmelk, quinoamelk, hempmelk en makadamiamelk.

Wat is plantmelk?

Plantmelk, of melk afkomstig van plante, is ʼn alternatief vir koei-en ander melkprodukte wat afkomstig is van diere soos bokke.

Dit word van neute, sade en peule gemaak waarby water bygevoeg word. Dit bevat ook geen laktose, wat dit ʼn goeie alternatief maak vir persone wat met melk allergieë sukkel.

Wêreldwyd is amandels, soja en hawer die gewildste plante wat gebruik word om plantaardige melk te vervaardig.

ʼn Groeiende mark – ook in Suid-Afrika

Plantmelk is ʼn groeiende mark en in Suid-Afrika kan verbruikers reeds uit verskeie alternatiewe melkprodukte kies. Die rede waarom baie verbruikers plantmelk bo melk verkies sluit onder meer gesondheidsredes, omgewingsbewustheid en persoonlike keuse in terwyl besware oor die behandeling van diere ook ʼn rol speel.

Die suiwelmaatskappy, Danone, het reeds in 2017 begin om plantaardige produkte te vervaardig, en vandag maak dié produkte deel uit van sy produkaanbod, ook hier in Suid-Afrika. Op eie bodem neem Libstar, ʼn maatskappy wat alternatiewe vir vleis vervaardig, die plantrevolusie verder. Libstar se produkreeks vir vleis-alternatiewe en plantaardige kos sluit in hamburgers en wors wat van sampioene gemaak is en selfs sampioen-biltong.

Volgens ProVeg SA word minder kweekhuisgasse vrygestel in die vervaardigingsproses van plantmelk teenoor tradisionele koeimelk. Minder water is ook nodig. Inteendeel ProVeg SA stel dit onomwonde dat daar slegs 28 liter water benodig word om ʼn liter sojamelk te vervaardig, teenoor die 628 liter  om ʼn liter koeimelk te maak. 





Related Articles