Dié vlaag het meer as 130 dae geduur en tydens die piek van die vlaag was daar meer as 20 000 nuwe gevalle per dag aangemeld.
Vlak 1 in ʼn neutedop
- Die aanklokreël is aangepas en landsburgers moet nou tussen 0:00 en 04:00 almal tuis wees, tensy hulle vir mediese of ander noodgevalle die huis moet verlaat of noodsaaklike werkers met die nodige papierwerk is.
- Restaurante, kuierplekke en nie-noodsaaklike ondernemings moet om 23:00 sluit om te verseker dat werknemers en klante betyds by hul wonings kan kom.
- Drankwinkels mag weer sake doen in pas met hul normale dranklisensievoorwaardes. Dit beteken dat drank weer oor naweke en op openbare vakansiedae verkoop mag word. Restaurante en kroeë mag voorts tot en met 23:00 drank bedien.
- Die perk op byeenkomste word verhoog tot 750 mense binnenshuis en 2 000 in die opelug. Die voorwaarde bly dat binnenshuise byeenkomste nie 50% van die kapasiteit van ʼn perseel mag oorskry nie, dus waar ʼn perseel nie 750 mense met sosiale afstandhouding kan akkommodeer nie, word die getal verminder tot 50% van die hoeveelheid mense wat ʼn perseel voor Covid-19 sou kon akkommodeer.
- Geen toeskouers word by sportgeleenthede toegelaat nie.
- Die perk by begrafnisse is van 50 tot 100 mense verhoog. Begrafnisse moet egter steeds korter as twee uur lank wees en die verbod op nagwake voor of byeenkomste na begrafnisse is steeds in plek.
- Die dra van maskers, wat die neus en mond bedek, is steeds van krag.
Oproep om aktiewe deelname aan inentingsprogramme
Volgens Ramaphosa word daar gepoog om voor middel Desember nog 16 miljoen dosisse van die Covid-19-entsowwe toe te dien.
Op die keper beskou beteken dit dat daar elke werksdag 250 000 inentings gedoen moet word ten einde te verseker dat 70% van die volwasse bevolking teen die virus ingeënt is. Die president het bevestig dat daar genoeg entstowwe beskikbaar is, maar gesê hy is bekommerd oor die stadige vordering van die inentingsprogramme.
Die Vooma Vaccination-naweekveldtog is in die lig hiervan tydens die ‘familievergadering’ bekendgestel. Tydens hierdie veldtog sal inentingslokale oor naweke oop wees in elke provinsie en distrikte waar inentingskoerse laag is.
Vir diegene wat reeds ingeënt is, sal die departement van gesondheid eersdaags inentingsertifikate uitreik wat sal ooreenstem met internasionale wetgewing. Hierdie inentingsertifikate sal veral belangrik wees vir mense wat wil reis.
* Senwes moedig al sy belangegroepe, insluitende personeel, aan om vir die entstof te registreer om ʼn einde aan lewensverlies as gevolg van die pandemie te bring en om besigheidsvolhoubaarheid te verseker.