Die Goodleaf-maatskappy sê hul produk, Goodmind, word gemaak van formules wat die funksionele eienskappe van sekere sampioene gebruik. Hierdie funksionele of adaptogeniese eienskappe van plante word volgens die maatskappy reeds vir eeue heen in tradisionele medisyne gebruik om onder meer stresvlakke onder beheer te bring. Sampioene, wat ook oor adoptogeniese eienskappe beskik, word byvoorbeeld al vir duisende jare in Oos-Asië in medisyne gebruik.
Dié sampioene word ingespan
Die kapsule bevat Lion’s Mane-, Reishi- en Cordyceps-sampioene wat nie enige giftige eienskappe het nie en wat ook nie die gebruiker se geestestoestand beïnvloed nie. Laasgenoemde verwys na psigedeliese of “magic” sampioene wat gebruikers daarvan in ʼn beswyming plaas.
ʼn Groeiende mark
Volgens Warren Schewitz, stigter en uitvoerende hoof van Goodleaf, is daar ʼn groeiende vraag na natuurlike gesondheidsprodukte in Suid-Afrika. Hy voeg by dat hul navorsing daarop dui dat funksionele sampioene met groot sukses gebruik kan word vir die bevordering van die immuunstelsel en om energie aan die liggaam te verskaf. Dit help ook om gebruikers se geheue en kognitiewe funksies te verbeter, spanning te verlig en slaap te bevorder.
Omdat medisinale sampioene reeds ʼn gewilde bestanddeel is in die vervaardiging van sekere gesondheidsprodukte, kos en drankies, meen Schewitz dat die vraag daarna beslis sal toeneem. Hy reken dat die wêreldwye mark vir funksionele sampioene teen 2026 jaarliks met ʼn saamgestelde persentasie van 7% kan groei soos wat gesondheidsbewuste verbruikers wegbeweeg van sintetiese middele en funksionele kosse en drankies begin kies weens die gesondheidsvoordele wat dit inhou.