Dié robot is volgens André Broekman, ʼn PhD-student in spoorwegingenieurswese, basies ʼn rekenaar met pote wat oor die potensiaal beskik om die manier waarop data ingesamel word, veral vir die landboubedryf, revolusionêr te verander en te vernuwe. In terme van funksionaliteit, kan smWoef geprogrammeer word om temperatuur te meet, moeilike terreine aan te durf en selfs verskillende reuke te ontleed en op te spoor.
Ten einde dié dataslim robothond op die proef te stel, is ʼn besoek onlangs aan die boerdery-en varsproduktemaatskappy ZZ2 se hoofkantoor in Limpopo afgelê, waar smWoef gebruik is om vrugte te tel, luggehaltemetings in boorde te neem en om data in te samel vir die ontwikkeling van ʼn digitale bloudruk van die omgewing. Broekman verduidelik dat die meting van temperatuur in die praktyk beteken dat kweekhuisgasse gemonitor kan word vir die optimale groei van saailinge terwyl die toepassing ook industriële verkoelingstelsels kan toets.
Nog ʼn voordeel van dié robothond is dat hy oor die vermoë beskik om terreine aan te durf wat vir mense ontoeganklik is, en boonop geen DNS nalaat wat die terrein kan besoedel nie.
Volgens Broekman is die landboubedryf baie pro-tegnologie wat betref die insamel van data, die meet van parameters, die aanbring van verbeterings en om meer winsgewend te wees, en om hierdie redes is smWoef pasgemaak vir die bedryf.
Meer oor die tegnologie
Prof Wynand Steyn, hoof van die UP se Departement Siviele Ingenieurswese, het smWoef sy naam gegee. Die “sm” staan vir “slim” omdat dit ʼn slim alternatiewe vervoerplatform is wat aan die internet gekoppel word. Die “woef” is Afrikaans vir die geluid wat ʼn hond maak, juis omdat smWoef ʼn vierbeen-robot is wat soos ʼn hond lyk.
Die toestel het vier motors wat dit toelaat om teen 4,4 km per uur te beweeg. Dit kan ook tot 8 m ver met ʼn afstandbeheerder werk of alternatiewelik vir langer afstande geprogrammeer word.
Die modulêre vorm laat dit toe om toerusting wat tot 5 kg weeg te dra en die robot het poorte op die rug waar toestelle soos temperatuursensors ingevoeg kan word
Al is die smWoef-toepassing nog nie op kommersiële vlak beskikbaar is nie, is die navorsers opgewonde oor die moontlikhede wat dié tegnologie kan ontsluit.
Kyk hier na ʼn video oor smWoef: https://bit.ly/3RWexeu