Volgens Andrea Campher, bestuurder van Agri SA se risiko-en rampeenheid, meen dat die goeie reënvalvoorspelling vir die komende seisoen én die feit dat die sprinkane vroeër vanjaar hul eiers naby groot besproeiingsgebiede in die Oos-Kaap gelê het, kan tot grootskaalse besmettings aanleiding gee.
Campher verduidelik dat Agri SA bekommerd is oor die moontlikheid van sulke besmettings, veral gegewe die feit dat baie sprinkaanbeamptes nie hul kontrakte met die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling hernu het nie. Dit volg nadat die departement nie daarin kon slaag om die boere en algemene werkers wat as sprinkaanbeamptes opgetree het te betaal nie. Ingevolge die Wet op Landbouplae (36 van 1983) is die regering verantwoordelik vir die bestuur van plae en siektes.
Gemeenskappe is beter voorbereid
Desondanks hierdie uitdaging is Agri SA van mening dat boere goed voorbereid is vir enige uitbraak wat gedurende die somerseisoen van 2021-2022 mag voorkom, aangesien die omvang van die vorige jaar se uitbraak boerderygemeenskappe op ʼn hoë gereedheidsvlak geplaas het.
Die organisasie meen voorts dat baie meer boere opleiding ontvang het vir die beheer en bestuur van hierdie tipe gebeurlikheid.
Op sy beurt meen Willem Symington, adjunkpresident van Agri Noord-Kaap dat hoewel die vorige uitbrake op ʼn klein skaal plaasgevind het, die organisasie hard besig is om voor te berei vir groter uitbrake op grond van die verwagtinge vir goeie reënval.
Dr Gerhard Verdoorn, bedryf-en rentmeesterskapbestuurder by CropLife SA het in ʼn onlangse media-onderhoud gesê dat die reënseisoen na alle verwagting eers in Oktober sal begin en dat daar tot op hede geen nuwe uitbrake in die Karoo aangemeld is nie omdat die omgewingstemperatuur nog te laag was.
Hierdie situasie kan egter enige tyd verander en hy verduidelik dat daar genoeg grondvog in sommige dele van die Karoo is om die uitbroei van die sprinkane te fasiliteer, veral as die grondtemperatuur tot bo 16° C en die temperatuur in die atmosfeer tot bo 30° C sou styg. Dr Verdoorn maan boere om waaksaam te wees en voortdurend hul gronde te ondersoek.
Gedurende die vorige reënseisoen is baie sprinkaanswerms oor uitgestrekte gebiede aangeteken, soos die hele Karoo, die suide van die Kalahari, die Wes -Vrystaat tot in Bloemfontein, en so ver oos as Kirkwood in die Oos Kaap.
* Die artikel het oorspronklik in Farmer’s Weekly verskyn.