US landbou-akademici gee globaal die toon aan
- 18 November 2021
- 1373
- Senwes
-
- nuus
Proff Oonsie Biggs (oorkruis-gebiede), Umezuruike Linus Opara (Landbouwetenskappe) en Dave Richardson (Omgewing en Ekologie) is onder die wêreld se mees aangehaalde navorsers. Biggs is die bekleër van die DWT/NNS Navorsingsleerstoel in Sosio-ekologiese Stelsels en Veerkragtigheid by die Sentrum vir Kompleksiteitsisteme in Oorgang. Opara, 'n uitgelese professor, beklee die DWT-NNS Suid-Afrikaanse navorsingsleerstoel in Na-oes Tegnologie. Richardson, ook 'n uitgelese professor, is die direkteur van die DWT-NNS Sentrum vir Uitnemendheid in Indringerbiologie (SIB) en is 'n professor in die departement Plant- en Dierkunde.
“Dié onderskeiding van drie van ons topnavorsers gee erkenning aan die kwaliteit en impak van hul navorsing. Die US is baie trots op hierdie prestasie," het prof Eugene Cloete, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, aan die US gesê.
Die lys, waarna daar elke jaar met groot verwagting uitgesien word, identifiseer wetenskaplikes en sosiale wetenskaplikes wat veelvoudige referate en artikels gelewer het wat in die boonste 1% volgens die aantal aanhalings in hul vakgebiede en jaar van publikasie verskyn en dus as uiters invloedryk onder hul eweknieë beskou word. Vanjaar se lys bevat sowat 6 602 mees aangehaalde navorsers uit meer as 70 lande en streke in 21 velde van die natuurwetenskappe en sosiale wetenskappe.
Biggs, Opara en Richardson bevind hulle in uitgelese geselskap saam met 24 Nobelpryswenners, insluitende vyf wat vanjaar aangekondig is, en 77 aangehaalde bekroondes (Engels: Citation Laureates). Hierdie groep is individue wat met behulp van aanhalingsontledings deur Clarivate erken word as 'van Nobel-gehalte' en moontlik Nobelpryswenners kan wees.
Related Articles