Die minister, Thoko Didiza, sê sy neem kennis van die pogings wat produsente, gemeenskappe en die landboubedryf aanwend om die onwettige verskuiwing van diere uit gebiede waar die hoogs aansteeklike dieresiekte voorkom, te stuit, sowel as van pogings om bioveiligheidsmaatreëls te verskerp.
Didiza sê ook sy besef watter groot ontwrigting die verbod in die normale verloop van sake vir talle sektors gaan veroorsaak. Om hierdie rede geld die verbod net vir beeste, hoewel alle gesplete hoefdiere die siekte kan versprei. Sy waarsku voorts die bedryf dat die verskuiwing van hierdie diere met groot waaksaamheid gedoen moet word.
Oortreding van die verbod is ʼn strafregtelike misdaad
Die departement waarsku dat die oortreding van die verbod ʼn strafregtelike misdaad is en dat die verskuiwing van beeste slegs in die geval van ʼn geldige permit toegelaat sal word. Hierdie permit sal uitgereik word vir die direkte slag van beeste by geregistreerde abattoirs, of vir die slag van beeste vir tradisionele rituele.
Vee-eienaars moet onder geen omstandighede diere verskuif wat enige simptome van bek-en-klouseer toon nie. Simptome sluit in blase in die mond, mank beweeg of letsels op kloue. Veeartse in die private sektor, distrik- of staatsveeartsenydienste kan gekontak word in gevalle waar mense vermoed diere het simptome.
Oortreders wat beeste onwettig vervoer, sal ingevolge die Wet op Dieresiektes (Wet 35 van 1984) vervolg word.
Permitte
Volgens Didiza sal ʼn tydperk van 48 uur gegun word om toestemming te kry om beeste wat reeds by skoue, veilings of op pad na die republiek is, na hul finale bestemming te verskuif nadat dit verkoop is.
Hierdie permitte sal deur die kantoor van die staatsveearts uitgereik word.