Volgens De Wet Boshoff, uitvoerende direkteur van die vereniging van veevoervervaardigers (Afma) is altesame 6,9 miljoen ton veevoer in die jongste tydperk verkoop. Die groei van 2,2% is meer as die 1% wat veevoerverkope van April 2020 tot Maart 2021 gestyg het, vergeleke met die vorige ooreenstemmende tydperk.
Beide die pluimvee-en lewendehawebedryf is in die jongste tydperk die meeste geraak deur hoë voerpryse, weens hoë internasionale kommoditeitspryse en die vernietigende uitwerking van dieresiektes.
Kommoditeitspryse is ondanks plaaslike rekordgraan-en oliesade-oeste op hoër as normale vlakke weens vraagdruk in die internasionale graan-en oliesadewaardeketting, aangedryf deur internasionale vraag en aanbod.
Boshoff is van mening dat die waardeketting nog besig is om van die ontwrigtende gevolge van die Covid-19-pandemie die afgelope twee jaar te herstel, toe dit ʼn bykomende knou toegedien is met Rusland se inval in Oekraïne. Laasgenoemde het bykomende druk op die waardeketting geplaas.
Boshoff verduidelik dat internasionale kommoditeitspryse afgelei word van die Chicago-graanbeurs, gegrond op internasionale vraag en aanbod, en dié prys word as verwysingsprys op die JSE gebruik om ʼn Suid-Afrikaanse prys te bepaal.
Sterk aanvraag uit China
Die internasionale vraag na voer is die belangrikste aandrywer van voerkommoditeitspryse. Volgens Boshoff het internasionale voerproduksie gedurende 2021 met 2,3% tot 1, 236 miljard ton gestyg.
China is steeds die wêreld se grootste voervervaardiger en sy produksie het in 2021 met 8,9% tot 261,4 miljoen ton gegroei. Dié land is boonop besig om sy varkkuddes te herbou na die verwoesting wat Afrika-varkpes veroorsaak het. Varvoerproduksie het daarom met 6,6% tot 17,25 miljoen ton gegroei en dit is waarom China se vraag na mielies en soja die afgelope twee tot drie jaar hoër as gewoonlik was. Hierdie tendens het volgens Boshoff die internasionale vraag en aanbod direk en beduidend geraak.
In die lig van die huidige internasionale vraag-en-aanbodsituasie meen Boshoff sal die hoër as normale pryse na verwagting op die kort tot mediumtermyn voortduur.
Belowende groei in Suid-Afrika
In Suid-Afrika ervaar die pluimvee-en lewendehawebedryf benewens die druk van hoë voerkoste ook probleme met dieresiektes soos voëlgriep, Afrika-varkpes en bek-en-klouseer.
Ten spyte van hierdie uitdagings toon navorsing vir die opstel van die meesterplanne vir die pluimveebedryf en vir die landbou en voedselverwerking dat daar verskeie gebiede van potensiële groei en ontwikkeling in die pluimvee-en lewendehawesektor is.
Boshoff meen dat dié sektore vorder danksy innoverende inisiatiewe deur hul onderskeie bedrywe en dit begin om gunstige gevolge te lewer.
Persentasiegewys het varkvoerproduksie in die jongste tydperk die grootste groei getoon, naamlik 16,4% gevolg deur bees-en skaapvoer met 8% en braaihoenders met 2,4%. Volumegewys het die produksie van braaihoendervoer die grootste groei getoon, naamlik 66 717 ton, gevolg deur bees-en skaapvoer met 66 504 ton en varkvoer met 63 785 ton.
In die pluimveesektor, wat erg deur voëlgriep geraak is, het die produksie van voer vir lêhenne en teelhoenders met onderskeidelik 2,1% en 1,4% gedaal.
Boshoff sê die groei wat reeds behaal is ten opsigte van weeklikse plasings van hoenders, die vestiging van 18 bykomende nuwe kontrakboere en die skep van meer as 1 450 bykomende werkgeleenthede sal na verwagting nog verder uitbrei om dat die beleidsomgewing die momentum ondersteun wat reeds geskep is.
“Namate die momentum voortduur en doelwitte in die verskillende diereproduksiesektore bereik word, sal dit beslis voerproduksie in Suid-Afrika verder aandryf, wat sy eie stel gunstige veelvuldiger-effekte het, beide stroomop en stroomaf in die waardeketting,” voorspel Boshoff.