Bek-en-klouseer | Vergewis jouself deeglik van die feite

  • 26 September 2022
  • 822
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Die verspreiding van bek-en-klouseer

Die virus wat bek-en-klouseer veroorsaak, kan direk of indirek versprei word.

Die meeste gevalle van regstreekse oordraging vind plaas wanneer diere met gesplete hoewe, wat van nature vatbaar is vir die siekte, in aanraking kom met diere wat besig is om die virus af te skeie.

Die siekte kan ook indirek versprei word, deur voertuie (bande of laaibakke), mense (wat byvoorbeeld die virus vir tot 48 uur in die boonste lugweg kan dra), klere soos oorpakke, instrumente soos neustnge, voer, ongepasteuriseerde melk en deur die lug deur klein druppeltjies wat in suspensie is. Ander diere, veral wild en voëls, kan verantwoordelik wees vir die meganiese oordag van die siekte.

Bydraende faktore wat ʼn rol in die verspreiding van die siekte speel, sluit in:

  • Die hoeveelheid (konsentrasie), duur en metode hoe die virus in die omgewing beland;
  • Die vermoë van die virus om buite die liggaam van ʼn dier te oorleef; en
  • Die konsentrasie van die virus benodig om ʼn volgende dier siek te maak.

In diere waar die virus in die liggaam sirkuleer en aktief verdeel, kan die virus deur liggaamsvloeistowwe (speeksel, urine, mis, semen en melk) uitgeskei word tot twee weke nadat die dier besmet is. Siek diere se speeksel bevat voorts baie hoë vlakke van die virus, wat drinkwater kan besmet.

Volgens dr Van Dijk is daar ook voorts ʼn verskil in uitskeiding tussen die verskillende tipes bek-en-klouseervirusse. Hierdie uitskeiding begin reeds vier dae of meer voor enige kliniese tekens getoon word. Om hierdie rede is dit moeilik om ʼn besmette dier te identifiseer voordat daar kliniese tekens is.

Varke wat besmet is, byvoorbeeld, skei baie meer van die virus uit as byvoorbeeld besmette beeste.

Draerdiere is volgens dr Van Dijk die grootste probleem as dit by virusuitskeiding kom. Draerdiere is diere waarin die virus vir meer as 28 dae na die aanvanklike besmetting in die sagte verhemelte, farinks en eerste gedeelte van die slukderm oorleef. Beeste, skape, bokke, buffels en ander wild kan draers wees.

In tot 20% van alle draerdiere kan die virus vir langer as ʼn jaar oorleef.

Oorlewing van die virus buite diere

Die bek-en-klouseervirus is baie gevoelig vir suur en alkaliese oplossings. Oplossings met ʼn pH van minder as 6 of meer as 10 vernietig baie van die virusse.

Nadat diere geslag is, word melksuur binne 48 uur in die spiere gevorm en verlaag die pH van die vleis tot tussen 5,5 en 6 wat die vleis in die meeste gevalle vry van die virus maak. Volgens Van Dijk kan die virus in vleis oorleef wat nie voldoende gekook is nie. In melk kan die virus in kaseïenmolekules oorleef en selfs hitteprosesse soos onvoldoende pasteurisasie deurstaan.

Omgewingstemperatuur het min  of geen effek op die oorlewing van die virus buite die dier nie. Die virus kan egter nie oorleef by ʼn humiditeit laer as 55% nie. Die virus kan ʼn onbekende tydperk oorleef op hooi, veral as die humiditeit hoog is.

Afloopwater waarin die virus voorkom, kan nog ʼn bron van besmetting wees. Die moontlikheid daarvan is egter volgens hom baie minder vergeleke met regstreekse kontak weens water se verdunningseffek op die viruslading, asook organiese materiaal wat die virus vernietig.

Voorkoming

Om verspreiding te voorkom, moete mense met die nodige diskresie by boere se diere toegelaat word, Jy weet nie waar hulle was voordat hulle op jou plaas aangekom het nie, en dr Van Dijk beveel aan dat hulle waterskoene dra wat met ʼn geregistreerde middel ontsmet is. Moet voorts ook nie enige voertuie onnodig op jou plaas toelaat nie.

Verder moet alle nuwe diere vir minstens 30 dae minstens 30 m tot 50 m weg van die bestaande kudde in kwarantyn gehou en dan ondersoek word deur ʼn veearts wat die groen lig kan gee dat die diere gemeng kan word. Slegs ʼn aangewese persoon moet in die kwarantyntydperk dan met hierdie diere werk.

As daar enige kliniese tekens is, byvoorbeeld klap van lippe, speekselloop of letsels in die bek of op die pote, moet die staatsveearts dadelik verwittig word. Bek-en-klouseer is ʼn beheerde siekte en alle moontlike gevalle daarvan moet aangemeld word.

* Die artikel het oorspronklik op Landbou.com verskyn.






Related Articles