Volgens BFAP was daar sedert 1990 verskeie skattings gemaak oor hoeveel landbougrond onder besproeiing is. ʼn Belangrike onderskeid wat in die verband getref moet word, is tussen werklike gewasse onder besproeiing en grond wat vir besproeiingsdoeleindes geregistreer is.
Professor Meyer sê dat die jongste skattings deur die waternavorsingskommissie en die voorganger van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, wat in 2018 saamgestel is, toon dat die totale gebied onder besproeiing wissel tussen 1,44 miljoen hektaar tot 1,68 miljoen hektaar. Volgens BFAP se jongste verslag oor besproeiingsinfrastruktuur, word die totale gebied wat vir besproeiing toegerus is, op 1,27 miljoen hektaar tot 1,5 miljoen hektaar gereken.
Ten einde die impak van beurtkrag op die landbousektor te illustreer, deel prof Meyer die dilemma waarmee ʼn KwaZulu-Natalse saaiboer en varkprodusent in Desember te kampe gehad het. Dié boer moes ʼn bykomende 14 000 liter diesel aankoop teen ongeveer R330 000 om krag op te wek vir gewasbesproeiing en om sy tegnologies gevorderde varkboerdery te bedryf. Bykomend tot hierdie uitdaging, moet die boer die risiko van besproeiingsonderbrekings dra. Hierdie risiko voeg ʼn bykomende 46c/kg by die produksiekoste vir varkvleis, en sal op die een of ander manier verhaal moet word vir die boerdery om finansieel lonend te bly.
Die aanslaaneffek hiervan is dat voedselprysinflasie na alle waarskynlikheid sal styg.
Professor Meyer sê voorts dat oor die afgelope 12 tot 18 maande hierdie boer waarna hy verwys, ʼn addisionele R4 miljoen tot R5 miljoen moes bestee aan verkrygings wat absoluut geen toegevoegde waarde genereer nie, behalwe om die besigheid aan die gang te hou. Ander uitgawes sluit in die ongeveer R300 000 per maand vir diesel om noodkrag op te wek, uitgawes vir dieselopgaartenks, reservoirs vir noodwater en bykomende vervoerkostes om produskie-insette te gaan haal en ekstra afstande wat gery moet word om openbare onluste te vermy.
Hierdie boer se ervaring is, volgens prof Meyer, ʼn klinkklare voorbeeld van hoe geld wat vir die doeltreffendheid en winsgewendheid van ondernemings gebruik kan word, nou aangewend moet word om bloot te probeer verseker dat werksaamhede aangaan soos tans die geval is.
“Daar kan dus geen sinvolle vordering wees terwyl beurtkrag voortduur nie,” waarsku prof Meyer.
* Hierdie artikel het oorspronklik op die Landbou.com platform verskyn.