Brandstofpryse daal gedurende Januarie

  • 04 January 2022
  • 1384
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Die prys van petrol sal met tussen 68c en 71c per liter daal, terwyl die prys van diesel met tussen 67c en 70c per liter sal daal. Paraffien sal 95c per liter goedkoper wees. Hierdie prysveranderinge sal op 5 Januarie in werking tree.

Volgens die Automobiel-Assosiasie (AA) kan die daling grootliks toegeskryf word aan die versterking van die rand teen die Amerikaanse dollar. Die rand het in die middel van Desember aansienlik gedaal toe reisbeperkings te midde van die verspreiding van die Omikron-variant opnuut vrese oor die Suid-Afrikaanse ekonomie laat ontstaan het. Die rand het egter sedertdien aansienlik veld gewen en staan nou weer op R15,88 teen die dollar, ʼn toename van 40c sedert twee weke gelede.

Die olieprys het oorheersend stabiel gebly tydens Desember, ondanks vrese vir die nuwe Covid-19-variant. Volgens die AA word daar verwag dat petroleumpryse in die komende maande internasionaal effens sal daal, namate die vraat na dié produkte afneem te midde van die verspreiding van Omikron oorsee. Hierdie tendens kan weer aanleiding gee tot ʼn daling in die prys van olie, wat voordelig vir Suid-Afrikaanse petrolverbruikers kan wees.

Die AA meen egter die effense verligting in die brandstofprys verander nie wesenlik aan die kwessie dat Suid-Afrikaners steeds veel meer vir brandstof betaal as net ʼn paar maande gelede nie. 






Related Articles