Dokumentêr fokus op kleinskaalboere

  • 29 July 2022
  • 898
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Sedert sy ontstaan in 1999, is Graan SA by boere-ontwikkelingsprogramme betrokke om armoede en voedselonsekerheid te bekamp en terselfdertyd werkskepping te stimuleer ten einde ʼn suksesvolle en gesonde landbousektor te vestig. Dié bedryfsorganisasie het derhalwe landswye streekskantore, studiegroepe en mentorskappe op die been gebring om elkeen wat ʼn stuk grond het en ernstig is oor boerdery, beter bewerkingsmetodes te leer terwyl natuurlike hulpbronne beskerm word.

Volgens Graan SA is daar meer as twee miljoen kleinboere, of bestaansboere, in Suid-Afika. Dit is boere wat op ʼn klein oppervlakte boer om hul gesinne te voed en dit is ʼn bonus as hulle ʼn oorskot kan produseer om te verkoop. Hierdie kleinboere speel daarom ʼn belangrike rol in landbou, maar baie van hulle boer ver onder hul potensiaal.

Dr Dirk Strydom, bemarkingshoof van Graan SA, verduidelik dat die hoofdoelwit van diesulke ontwikkelingsprogramme is om kleinskaalboere op ʼn punt te kry waar hulle kommersiële opbrengste kan lewer. Om dit te bereik moet hulle egter toegang hê tot saad, chemikalieë en kunsmis van ʼn hoë gehalte, en dit is wat die vennootskap met Bayer moontlik maak.

Op sy beurt meen Klaus Eckstein, landsafdelingshoof by Bayer Crop Science Suider-Afrika, dat sy organisasie Afrika sien as ʼn vasteland wat groei. Die vennootskap met Graan SA maak dit moontlik om kleinboere en bestaansboere in Suid-Afrika op te lei om nie net die nodige kennis op te doen nie, maar ook om vertroud te raak met nuwe tegnologie. 

Kyk die dokumentêr hier.

* Hierdie artikel is oorspronklik deur Maroela Media gepubliseer.







Related Articles