Graan SA en Alfa Expo vat hande vir uitsonderlike ekspo

  • 25 July 2022
  • 995
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Die twee grotes in die bedryf gaan vanaf 29 September tot 1 Oktober 2022 die heel eerste NAMPO Alfa Lewendehawe-, Jag en Buitelewe-ekspo aanbied op NAMPO Park net buite Bothaville.

Die lewendehawe bedryf in Suid-Afrika is aan die groei en vorm ʼn belangrike deel van die plaaslike ekonomie.  Hierdie groei was duidelik sigbaar in die feit dat Alfa oor ʼn vier jaar periode gegroei het tot die beste lewendehawe-ekspo in die land. Die volgende logiese stap sou wees om dit nog groter te maak, en met jare se suksesvolle aanbiedinge teen sy naam, is NAMPO Park die ideale plek waar Alfa sy vlerke kan sprei.

Alfa is nie net ʼn gewone ekspo nie, en bied sedert sy ontstaan verskeie unieke platforms wat aan rolspelers in die lewendehawe bedryf uitstekende besigheidsnetwerk geleenthede bied.  Dit geld vir plaaslike rolspelers en belanghebbendes regoor die Afrika-kontinent.  Vir 2022 is daar weer ʼn propvol lewendehawe program vir jonk en oud.

Daarmee saam bestaan daar tans ʼn groot behoefte onder produsente vir ʼn jag- en buitelewe-ekspo met ʼn praktiese aanslag.  Lewendehawe, buitelewe en jag is uiters komplimenterende aspekte van die Suid-Afrikaanse landbougemeenskap en die kombinasie bied ʼn wenresep.  NAMPO Park beskik oor reeds goeie stelsels en infrastruktuur onder andere genoegsame parkering, kiosks, ablusie fasiliteite, vee fasiliteite en ander lokale wat die groot geleentheid nie alleen kan huisves nie, maar ook geleentheid vir groei fasiliteer.  Boonop bied NAMPO Park nog ʼn groot voordeel – die Suid-Afrikaanse produsent voel reeds tuis daar.

ʼn See van geleenthede lê voor wat praktiese demonstrasies van 4x4 voertuie, karavane, kampeer en jag toerusting in sluit.  Dit sluit selfs ʼn moontlikheid van ʼn skietbaan in waar belangstellendes die praktiese ervaring van toerusting kan ervaar en geniet.  NAMPO Park is gedurende die ekspo ook die huis van die nasionale SARRC Wedren, en kan besoekers bekende renjaers in aksie sien.

Die lewendehawe projekte sluit ʼn verskeidenheid projekte in wat al die verskillende lewendehawe spesies dek, nl. vleis- en melkbeeste, kleinvee, varke en bokke.  Dit sluit onder andere die Nasionale Vleisbees-Interraskampioenskappe, die Junior Interras (Landbouskole), die verskillende prestasie-kampioenskappe (Groot- en Kleinvee), en die Money Maker kwalifiseerders (Groot- en Kleinvee) in.  Verder is die jeugprogramme met die landbouskole en studente ook betrokke en die programme en mini-ekspo met werkperde, werkshonde, konyne en pluimvee, is ook terug.

Met ʼn groot verskeidenheid uitstallers, in die lewendehawe, jag en buitelewe industrieë, beloof die ekspo om vir lewendehawe en natuurliefhebbers, jagters, avontuurlustiges en natuurlik die adrenalien verslaafdes, dié een te wees.






Related Articles