Kragkrisis | Gevaarligte flikker in die rooivleiswaardeketting

  • 27 February 2023
  • 615
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Dit is veral bedrywe wat afhanklik is van besproeiing en energie-intensiewe bedrywe wat op hul knieë gedwing word. Die gevolg van beurtkrag is dus tasbaar en lei tot geldelike sowel as operasionele uitdagings in hierdie bedrywe. Selfs koelkettings wat in die rooivleiswaardeketting gehandhaaf moet word, ontgeld dit.

Die algehele prentjie

Gerhard Schutte, uitvoerende hoof van die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), sê dié bedryf is in ʼn gunstige posisie weens die feit dat ekstensiewe produksie nie direk deur beurtkrag geraak word nie. “Wat voerkrale betref gaan dit oor veevoervermenging en verspreiding na krale en dit kan binne beurtkragsessies geskied, so tot by die abattoir dink ek nie beurtkrag het ʼn baie groot impak nie.”

Hy meen dat beurtkrag wel abattoirs se vermoë om doeltreffend te funksioneer aantas. Daarom word die hele koelketting vandaar tot en met die verbruiker in ʼn minder gunstige posisie geplaas. “Die slegte nuus is dít dra daartoe by dat rooivleis vir die verbruiker duurder is, terwyl dit nie ekstra geld vir die boer in die sak bring nie. Die produk is duurder in die kleinhandel weens die ondoeltreffendheid van die waardekoueketting, wat gebuk gaan onder hoër kostes, terwyl die boer aan die kortste ent trek.”

Lewering van gesonde en gehalte vleis

Dr Gerhard Neethling, algemene bestuurder van die Rooivleis-abattoirvereniging (RVAV), sê ongeveer 410 abattoirs in Suid-Afrika is tans verantwoordelik vir die verskaffing van gesonde en veilige rooivleis. Hierdie vleis vorm ʼn belangrike deel van die land se proteïenbehoeftes. Daar moet egter voldoen word aan rooivleisregulasies in terme van die Wet op die Veiligheid van Vleis, 2000 (Wet 40 van 2000). Onder andere stipuleer die wet dat karkasse afgekoel moet word na 7 °C, voordat ʼn produk na kliënte versprei mag word.

Hoewel dit nie verpligtend is nie, word ru- en rooi-afval ook by die meeste geriewe verder verwerk en verkoel. Hy sê afgesien van verkoeling is die normale bedryf van groter abattoirs ook verder afhanklik van deurlopende energievoorsiening en verskeie gemeganiseerde prosesse is in plek om beter gehalte en ʼn veilige produk te verseker. Higiëne van toerusting is ook voorts afhanklik van warm water of water by 82 °C. Dit alles word deur beurtkrag bedreig.

Volgens hom kan die slagproses nog met kragonderbrekings gepaard gaan, maar die verkoelingsproses is ʼn aaneenlopende proses en fluktuasies tydens dié siklus hou onaanvaarbare gesondheid- en gehalterisiko’s in.

Stygende produksiekostes eis sy tol

Neethling meen toenemende kostedruk verwant aan energieverskaffing, asook die onvermoë van die verbruiker om bykomende kostes te betaal, het reeds daartoe gelei dat ongeveer 30 abattoirs in die afgelope vyf jaar hul deure noodgedwonge moes sluit.

Hoewel die gebruik van kragopwekkers al vir ʼn geruime tyd ʼn norm by abattoirs is, het die druk verhoog weens die feit dat verdere uitbreiding van infrastruktuur in terme van energie-opwekking vereis word, soos kragonderbrekings al meer en langer word. Dit sluit sonkrag en biogas in.

Neethling sê die impak van hierdie verhoogde koste het reeds gelei tot verlaagde produksie in rooivleis, terwyl sommige geriewe met personeelvermindering begin het. “Die voortgesette verhoging in koste het derhalwe ook ‘n ernstige impak op die volhoubare voorsiening van voedsel. Die abattoirbedryf het uiteraard deurlopend hierdie stygende koste sover moontlik probeer absorbeer, maar die aaneenlopende impak plaas geweldige druk op ons.”

* Hierdie artikel het oorspronklik op die AgriOrbit-webwerf verskyn. 






Related Articles