As daar een woord is wat Mariette goed beskryf, dan is dit die woord ‘passievol’. Dié oud-Kapenaar borrel behoorlik van opgewondenheid as jy met haar gesels oor haar beesboerdery en die lewe op die plaas. Hoewel sy nou maar eers ʼn jaar en ʼn half voltyds boer (sy het vir vyf jaar deeltyds geboer), is sy geen vreemdeling tot die bedryf nie.
Kleindogtertjiedroom word bewaarheid
Sy vertel dat sy van kindsbeen af in boerdery en die plaaslewe belang gestel het en van haar mees gekoesterde herinneringe is waar sy saam met haar pa op die plaas rond gery het . Beeste was nog altyd haar groot liefde en belangstelling en sy meen dat alles wat sy vandag van beeste weet, sy by haar pa geleer het.
Mariette sê sy het altyd daarvan gedroom om eendag self te boer, maar dit was haar nooit beskore nie. Sy en haar man, Hein, het hulself albei in die korporatiewe wêreld gevestig en sy het maar eers onlangs die groot besluit geneem om die raadsaal vir ʼn beeskraal te verruil. Hein bevind homself steeds in die korporatiewe sektor en pendel tussen die plaas, Johannesburg en Kaapstad.
Haar seuns, Joa en die tweeling, Fourie en Joubert, is ook versot op die plaaslewe en maak gereeld tyd om tussendeur hul studies en werksverpligtinge te kom kuier. Danksy moderne kamera tegnologie bly hulle ook op hoogte van alles wat op die plaas gebeur en ervaar hulle dié nuwe avontuur op die manier saam met Mariette.
Toekomsplanne
Mariette vertel opgewonde dat hulle besig is om die beeskudde op die plaas uit te brei en dat hulle nuwe Beefmaster-bulle op die Bonsmara-verse en koeie gebruik.
“Ons het baie navorsing gedoen en gaan kers opsteek by bekwame boere in die omgewing asook by beesboere in ander dele van die land waar hulle weer van ander metodes gebruik maak. Die hele proses was baie leersaam en nou moet ons al die kennis wat ons opgedoen het in die praktyk gaan toepas” verduidelik Mariette. Sy vertel voorts dat sy van die begin af die regte beginsels in die kudde wil gebruik om probleme wat later mag voorkom, te vermy.
Sy is ook, na haar besoek aan verskillende beesboerderye in die land, van mening dat dit belangrik is om saam met die natuur te boer. Hierdie sienswyse sal daartoe lei dat die kalwers aankom as die koeie se behoeftes ooreenstem met die beskikbare weiding.
Die bekoring van landbou
Vir Mariette is daar iets “ongelooflik bevrydend” om in die veld tussen die beeste rond te loop. Volgens Mariette is dit die beste tyd om besluite te neem waarvan sy die impak direk kan sien.
Nog ʼn passie van haar is om met genetika te eksperimenteer. “Ek is lief om te skilder, maar ek kry bitter min kans om dié stokperdjie te beoefen. Vandat ek met genetika in beeste begin rondspeel het, voel dit kompleet asof ek weer kleure op my skilderpallet meng en met afwagting uitsien na wat geskep gaan word!”
Vrouewees in landbou
Mariette meen sy was aangenaam verras deur die ontvangs wat sy vanaf die sektor ontvang het. In die lig hiervan vier sy nie Vrouedag in besonder nie, omdat sy deurlopend met respek behandel word en voel dat haar stem gehoor word – nie net op Vrouedag nie, maar elke dag.
Haar rolmodelle is ook vroue in landbou en sy sonder veral Ria Steyn van Vryburg uit, wat op die ouderdom van 90 jaar met gesag oor genetika kan praat. Dan is daar ook Steyn se dogter, Frieda, wat ʼn werklike kundige is en graag haar waardevolle kennis met ander deel, en Tokkie Cronje van Kroonstad wat ʼn voorslag beesboer is. Mariette meen hierdie vroue se raad en bystand is van onskatbare waarde en dat sy reeds baie by hierdie raakvat-vroue geleer het.
As Mariette een brokkie advies het vir ander vroue in die bedryf, dan is dit om nie skaam te wees om vrae te vra en by ander te leer nie. Sy moedig ander vroue aan om hul kennis op hierdie manier te verbreed, asook om voortdurend na te lees en navorsing te doen alvorens ʼn belangrike besluit geneem moet word.
Sy is ook van mening dat goeie verhoudings, veral met plaaswerkers belangrik is en dat geleenthede geskep moet word vir personeel om aan die besluitnemingsproses deel te neem.
Vir Mariette gaan alles oor passie en sy meen die aanhaling van die Amerikaanse skrywer Howard Thurman, som haar en haar boerdery-aktwiteite goed op: “Vra jou af wat dit is wat jou lewendig laat voel en doen dit, want wat die wêreld nodig het, is mense wat voluit leef!”
