Nuwe struktuur vir Graan SA

  • 07 February 2023
  • 457
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Die aanpassing is gedoen aan die hand van artikel 30B van die Wet op Inkomstebelasting van 1962 (Wet 58 van 1962). Hierdie wet bepaal dat as jy ʼn nie-winsgewende organisasie (NWO) is, soos Graan SA tans is, moet 85% van jou inkomste direk van lede afkomstig wees. Dié artikel bepaal voorts dat as jy ʼn NWO is, en jy belastingvrystelling geniet, dit jou plig is om te voldoen aan die vereistes van die wet.

Volgens Mathews voldoen Graan SA nie aan die 85%-vereiste nie, omdat die organisasie se fondsinsamelingsaksies, naamlik Nampo Bothaville, Nampo Kaap, Nampo Alfa en verskeie ander funksies, as kommersiële aktiwiteite geag word.

Die nuwe struktuur bestaan uit die volgende vier entiteite:

  • Graan SA NWO
  • Nampo (Edms) Bpk
  • Phahama Grain Phakama NPC
  • Kommersiële Produsente Trust

Die grootste verandering is dat Graan SA se winsgewende (kommersiële) aktiwiteite voortaan apart in Nampo (Edms) Bpk bedryf sal word. Binne hierdie maatskappy sal Graan SA se belastingpligtigheid doeltreffend bestuur kan word.

Die NWO, Graan SA met sy lede, word behou en sy kernbesigheid, naamlik die uitbou van volhoubare, winsgewende graanproduksie in Suid-Afrika, bly ook dieselfde. Die aksies van dié NWO sal befonds word deur projekte wat deur Nampo (Edms) Bpk bedryf word.

Die openbare weldaadsorganisasie, Phahama Grain Phakama NPC, is tot stand gebring ná donateurs wat in Graan SA se ontwikkelingsprogram bydraes gemaak het, versoek het dat daar ook vir hulle belastingvoordele – deur die uitreiking van Artikel 18A-sertifikate, bewerkstellig word. Al die aktiwiteite binne hierdie entiteit is op voorheenbenadeelde persone en gemeenskappe gemik.

Die Kommersiële Produsentetrust se fondse word vir navorsing aangewend. Dié trust se fondse het voorheen in twee verskillende entiteite binne Graan SA gelê, naamlik die Mielieprodusente-navorsingstrust en die Wintergraanprodusente-navorsingstrust. Die fondse wat in die twee trusts was, sal steeds apart bestuur word.

Volgens Mathews is dit belangrik dat goeie beheer en bestuur in die nuwe struktuur toegepas word. Met die kompleksiteit wat die verskillende entiteite bring het die bestuur van Graan SA seker gemaak dat die aanspreeklikheid en die verantwoordelikheid in die regte plekke is.

Mathews gee die versekering dat produsente nie beheer oor hul organisasie verloor nie. Die kongres bly steeds die plek waar die produsent se stem duidelik en deeglik gehoor word, en waar die mandate van die organisasie neergelê word. Hy voeg by dat die verantwoording egter by die hoofbestuur lê, en dat produsente nie bekommerd hoef te wees nie. “Bestuur sal met groot omsigtigheid en verantwoordelikheid verseker dat Graan SA wetlik is, en aan goeie bestuurspraktyke voldoen,” sê Mathews.






Related Articles