RPO reageer op die verbod op die beweging van beeste

  • 19 August 2022
  • 785
  •  RPO
  •  
  •  persverklaring



Dié afkondiging het ʼn baie ernstige impak op die rooivleiswaardeketting. Daar moet egter onthou word dat ʼn omdraai-strategie nodig is wat waarskynlik noodsaaklik geword het weens die feit dat daar in die laaste twee weke 15 nuwe uitbrekings van bek-en-klouseer was en twee addisionele provinsies geaffekteer is.

Hierdie maatreëls het nie slegs ʼn ernstige impak op die kommersiële sektor nie, maar impakteer amper meer ernstig op die ontwikkelende sektor aangesien 1,2 miljoen huishoudings lewendehawe besit en daarvan afhanklik is vir ʼn inkomste en voedselsekuriteit.

Bek-en-klouseer is ʼn beheerde siekte waarvoor die staat die verantwoordelikheid het, hetsy op nasionale, provinsiale of plaaslike vlak. Die besluit wat deur die minister afgekondig is, is waarskynlik ʼn besluit om die verspreiding van die virus te bekamp en daarom impakteer dit ernstig op die waardeketting. Hierdie was nie ʼn waardeketting besluit nie.

Selfregulering is nou uiters noodsaaklik en die RPO ondersteun dit. Die RPO versoek ook dat in die proses van selfregulering, die nasionale en provinsiale dieregesondheidsforums asook die nasionale en provinsiale veediefstalforums geken sal word en dat daar met hulle saamgewerk sal word.

Die rooivleisbedryf sal ʼn bewys moet lewer aan ons handelsvennote dat ons suksesvol is om ʼn omdraai-strategie te bewerkstellig, anders gaan ons handel verder benadeel word in terme van uitvoere.

Dit is verder ook duidelik dat ons totaal ʼn nuwe strategie sal moet volg ten einde die siekte te beheer. Die RPO is van mening dat Suid-Afrika sy status as ʼn land sonder enting sal moet heroorweeg en dat daar waarskynlik beweeg sal moet word na ʼn land met beperkte enting teen bek-en-klouseer. Die implikasie hiervan is dat Suid-Afrika sy eie entstowwe sal moet begin produseer en dat die vrye mark ʼn belangrike rol sal moet speel in die produksie van dié entstowwe. Dit is verder ook noodsaaklik dat die laboratorium en toetskapasiteit uitgebrei moet word en in die verband sal die privaatsektor weereens ʼn groot rol moet speel.

Die beheermaatreëls op die beweging van beeste, sal baie streng toegepas moet word deur die owerheidsinstansies aangesien dit die begin is van die omdraai-strategie. Die RPO sal sy volle samewerking verleen om te verseker dat die omdraai-strategie suksesvol is en dat dit beperk sal word tot ʼn tydperk van 21 dae.

Ons as produsente van beesvleis sal alles in ons vermoë moet doen om toe te sien dat die 21 dae tydperk nie ernstig impakteer op die voorsienningsproses van beesvleis in die waardeketting nie.

Dit is ook belangrik om kennis te neem dat bek-en-klouseer geen impak het op menslike gesondheid nie. Hierdie is ʼn siekte wat slegs internasionale handel in diere en dierlike produkte beïnvloed.

Die RPO se visie tot 2030 is dat daar groot potensiaal is om die plaaslike bedryf te laat groei. Die rooivleisbedryf is die slapende reus van landbou in Suid-Afrika en ons kan inklusiewe groei bewerkstellig deur uitvoere vanaf 5% na 20% te laat groei, maar dan moet ons ons handelsvennote oortuig dat bek-en-klouseer onder beheer is. Dis is derhalwe noodsaaklik dat die omdraai-strategie suksesvol sal wees.






Related Articles