SA landbousektor vaar goed desondanks uitdagings

  • 03 January 2023
  • 534
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Volgens Sihlobo het die sektor in 2020 in bruto waarde met 14,9% op ʼn jaargrondslag gegroei, terwyl ʼn 8,8% groei in die daaropvolgende jaar aangeteken is.

ʼn Verwagte inkrimping

Die verwagte afname vir vanjaar kan toegeskryf word aan moeilike omstandighede, soos onder meer die afnames in belangrike oeste soos dié van mielies, produksieprobleme in die suikerbedryf en verskeie uitdagings in die handel vir bedrywe soos vrugte, groente, rooivleis en wol, asook ongunstige gevolge van die wydverspreide voorkoms van bek-en-klouseer.

Die verwagte inkrimping volg egter op buitengewone sterk groei die afgelope twee jaar en Sihlobo beklemtoon dat die sektor steeds sterk vertoon te midde van ʼn La Niña-somerseisoen met baie reën oor die hele Suid-Afrika.

SA verbeter sy plek op wêreldindeks vir voedselsekerheid

Op die gebied van voedselsekerheid het Suid-Afrika sy plek op The Economist se wêreldindeks vir voedselsekerheid verbeter. Die land beklee nou die 59ste plek uit 113 lande (terwyl hy in 2021 die 70ste plek gehaal het).

Sihlobo meen dié “merkwaardige” verbetering plaas die land aan die voorpunt van voedselsekerheid in Afrika. Hy verduidelik voorts dat Suid-Afrika se verbetering nie net toegeskryf kan word aan ander lande se afname weens die konflik tussen Rusland en Oekraïne nie. “Faktore wat tot ons verbeterde telling bygedra het, sluit in beskikbaarheid, bekostigbaarheid, gehalte en veiligheid, asook volhoubaarheid en aanpassing met produksie,” sê Sihlobo.

Landbousektor ʼn voorloper in werkskepping en uitvoerverdienste

Wat werkskepping betref, het die primêre landbou 873 000 mense in die derde kwartaal van 2022 in diens gehad, wat op ʼn jaargrondslag 5% meer was. Hierdie syfer is ver bo die langtermynindiensnemingsyfer van 780 000 en kan toegeskryf word aan die toenemende bedrywighede by die verbouing van sommige groente, vrugte en gesaaides.

Volgens Sihlobo is die landbou se verdienste uit uitvoere ook bemoedigend ondanks handelsprobleme met sitrus na die Europese Unie, wol na China en groente na Namibië en Botswana. Beskikbare data vir die eerste agt maande van die jaar was uitvoerverdienste $8,9 miljard, wat 6 miljard meer is as die eerste agt maande van 2021. Hoër kommoditeitspryse het bygedra tot hierdie toename in uitvoerverdienste.

Ander aspekte om in aanmerking te neem

In sy jaaroorsig wys Sihlobo ook na belangrike beleidsontwikkelinge en -programme wat in werking getree het gedurende die 2022 landboujaar. Hy is van mening dat indien hierdie ontwikkelinge god toegepas word, dit tot sektorgroei op die lang termyn kan bydra. Dit sluit onder meer in die meesterplan vir landbou en landbouverwerking wat die samewerking van almal in die sektor sal verg om suksesvol te wees.

Een terrein waarop daar min vordering was, was met die skep van ʼn agentskap vir landbou-ontwikkeling en grondhervorming. Hierdie agentskap sal gerig wees op versnelde herverdeling, maar daar word nog aan die struktuur daarvan gewerk.

Sihlobo meen ondanks alles wat bereik is, is daar talle probleme van buite die sektor wat ook ʼn impak het. Dit sluit in gebrekkige infrastruktuur en hulpbronne soos paaie, spoorvervoer, hawens, water en elektrisiteitsvoorsiening, asook dienslewering by plaaslike owerhede in. Hy voeg by dat dit noodsaaklik is om uitvoermarkte na ander lande uit te brei, soos China, Suid-Korea, Japan, Amerika, Taiwan, Indië, Saoedi-Arabië, Mexiko, die Filippyne en Bangladesj. 






Related Articles