SA op aangepasde vlak 1 van inperking | Wat jy moet weet

  • 23 March 2022
  • 1262
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



So sê president Cyril Ramaphosa na sy mees onlangse ‘familievergadering’ met Suid-Afrikaners. Hy meen voorts dat terwyl die pandemie nog nie heeltemal verby is nie, ons versigtig besig is om groot dele van ons daaglikse lewe weer na normaal te laat terugkeer. In die verband sien ons dat ons ekonomie terugkeer na volle aktiwiteite, terwyl ons voel hoe die vrees en wanhoop van die afgelope twee jaar van ons skouers af lig.

Opheffing van die nasionale ramptoestand

Ramaphosa het voorts gesê dat weens die veranderende aard van die pandemie en weens die vordering wat gemaak is deur Suid-Afrikaners se kollektiewe pogings, daar planne op die tafel is om die nasionale ramptoestand so gou as moontlik op te hef. Laasgenoemde sal plaasvind sodra openbare kommentaar op die gesondheidsregulasies, wat deur die minister van gesondheid gepubliseer is, afgehandel is.

Sodra die openbare kommentaar afgehandel is, sal die gesondheidsregulasies die ramptoestand vervang as regsinstrument wat verder gebruik sal word om die pandemie te bestuur. Die president het dit egter beklemtoon dat die einde van die nasionale ramptoestand nie die einde van die pandemie beteken nie.

Suid-Afrikaners is aangemoedig om voor 16 April kommentaar op die konsepregulasies te lewer.

Aangepasde vlak 1 van die staat van inperking

Hiermee die belangrikste aspekte waarvan daar kennis geneem moet word onder die aangepasde vlak 1 van die staat van inperking:

Groot byeenkomste kan tot 50% van die kapasiteit van ʼn lokaal of ʼn stadium vul, maar op voorwaarde dat mense wat dit bywoon óf bewys toon dat hulle ingeënt is óf van ʼn negatiewe koronavirus-toets wat minder as 72 uur vantevore gedoen is.

As inenting of negatiewe toetse nie vereis word nie, bly die perk 1 000 mense binnenshuis of 2 000 by buitelug-byeenkomste, maar nie meer as 50% van die kapasiteit van die lokaal nie.

Die dra van maskers in die opelug is nie meer verpligtend nie, ook nie by buitelug byeenkomste nie. Dit bly egter verpligtend om ʼn masker binnenshuis te dra.

Die sosiale afstand wat tussen mense aanbeveel word, word tot 1 m verkort, van 1,5 m voorheen.

Tot 200 mense mag nou begrafnisse bywoon, teenoor 100 mense voorheen. Nagwake of gesellighede na begrafnisse mag egter steeds nie plaasvind nie. Begrafnisdienste moet ook steeds korter as twee ure duur.

Toeriste kan Suid-Afrika nou binnekom as hulle ten volle ingeënt is. Die wat nie ingeënt is nie, moet egter steeds ʼn negatiewe polimeerkettingreaksietoets toon wat minder as 72 uur oud is. Volgens die president sal toeriste wat graag hier ingeënt wil word, gratis ingeënt word.






Related Articles