Volgens Bennie Engelbrecht, stigterslid en direkteur van Saffricon, is aanplantings in al nege provinsies gedoen en spog produsente met ʼn sukseskoers van ongeveer 95%. Engelbrecht sê dat aanplantings gewissel het van sowat 6 000 knolle tot net meer as 150 000 knolle. Verder is 173 beginnerpakke aan 134 belangstellende partye verkoop.
Saffricon het vanjaar verbouingskontrakte met drie produsente gesluit waarvan een in Laingsburg en twee in Pretoria gevestig is. “Laingsburg het verreweg die beste opbrengs gelewer,” meen Engelbrecht, maar voeg by dat daar nie regtig swak opbrengste in enige van die ander areas was nie. Alle aanduidings is egter dat die klimaat in KwaZulu-Natal nie ideaal is vir die verbouing van saffraan nie.
SA as ʼn topverkoper van saffraan
Engelbrecht is optimisties oor Suid-Afrika se toekomstige rol in die saffraanbedryf, en meen die land kan een van die wêreld se grootste voorsiennings word. Dit is egter belangrik dat die plaaslike bedryf op ʼn oordeelkundige en geordende basis ontwikkel word.
Volgens Engelbrecht is die gehalte van die Suid-Afrikaanse saffraan bogemiddeld hoog, wat beteken dat dit oorsee goeie pryse sal behaal.
Op die plaaslike mark verkoop saffraan vir tot R250 per gram, of R250 000 per kilogram. Hy verduidelik dat dié stewige verbruikersprys deur arbeidsintensiewe oesmetodes genoodsaak word. Die hele proses, van die pluk van die blomme tot die verwydering van die stempels geskied per hand, en sowat 150 000 blomme is nodig vir ʼn enkele kilogram saffraan. In terme van die opbrengs per hektaar in jaar drie, wanneer produksie ʼn hoogtepunt bereik, wissel van 1 kg tot 5 kg.
Meer oor saffraan
- Iran is tans die grootste produsent van saffraan in die wêreld, en produseer in die omgewing van 430 ton. Indië is die tweede grootste produsent, met 22 ton gevolg deur Griekeland met 7,2 ton.
- Saffraan is ʼn wintergewas, waarvan die knolle van Maart tot April aangeplant word.
- Die blomme met hul kenmerkende bloedrooi saffraanstempels moet op die dag dat dit begin blom, geoes word.
- Saffraanknolle vermeerder gemiddeld drie keer per jaar ondergronds in gunstige toestande, en blomproduksie bereik gewoonlik in jaar drie ʼn hoogtepunt.
- Die saffraanseisoen loop teen Oktober tot einde.