Senwes ondersteun saamtrek teen beurtkrag

  • 08 February 2023
  • 825
  •  
  •  
  •  nuus



So meen Francois Strydom, Groep Hoof Uitvoerende Beampte van Senwes, by wyse van ʼn verklaring wat op Woensdag, 8 Februarie 2023 voorgehou is tydens ʼn saamtrek van die landbougemeenskap in die Vaalharts-omgewing.

Die doel van dié saamtrek is om, soos tydens die onlangse saamtrekke in Douglas, Prieska en Hopetown, boere die geleentheid te bied om hul misnoeë met die kragkrisis en die onvoorspelbare beurtkragskedules se verwoestende impak op hul boerderye op ʼn tasbare wyse te illustreer.

Die saamtrek is deur die Vaalharts Landbou-unie gereël.

Volgens Strydom, wat ook die Voorsitter van die Landbousakekamer, Agbiz, moet hierdie saamtrek, en soortgelyke saamtrekke, as ʼn opbouende gebaar gesien word. Die boodskap wat uitgedra word, is dat die landbousektor – insluitend agribesighede, gewillig en bereid is om deel te wees van die oplossing om die elektrisiteitskrisis aan te pak.

“Die kruks van die saak is dat elektrisiteit dringend nodig is om oeste te red en om te verseker dat voedselsekerheid beskerm word,” sê Strydom en voeg by dat die stelling wat in Douglas gemaak is, naamlik “krag is kos en kos is krag” as’t ware as ʼn noodkreet in hierdie tyd vir die landbousektor dien.

Beurtkrag dra by tot die enorme las wat tans op landbouers se skouers rus. Benewens die kapitaalkoste vir kragopwekkers en die skade wat kan volg in die gehalte van produkte, speel faktore soos wisselvallige kommoditeitspryse, hoë insetkostes en veranderende weerpatrone ook ʼn beduidende rol.

Dit is egter vir Strydom verblywend om te sien hoe gemeenskappe hande vat ten tye van ʼn krisis, soos dit ook nou die geval is. Vandag se saamtrek het nie net uit boere en hul plaaswerkers bestaan nie, maar ook uit dorpenaars, besigheidslui, finansiële instellings, agribesigheid en verskeie media verteenwoordigers.

Senwes Grainlink se Hartswater-silo het as die bymekaarkom- en vertrekpunt gedien, waarna die deelnemende boere en gemeenskapslede die dorp se strate met hul trekkers, sleepwaens en ander plaasvoertuie betree het.






Related Articles