Strydom wens alle produsente en hul werknemers sterkte en voorspoed toe met die besige tyd wat voorlê en nooi produsente uit om die vrymoedigheid te hê om hom direk te kontak indien hul enige besigheidsprobleme ervaar.
Volgens Strydom het die reën op die regte tyd begin, alhoewel dit dalk ʼn bietjie laat was vir produsente wat koring aanplant. Kenners reken dat daar reeds 10% tot 20% skade in terme van die opbrengs van koring gely is, maar gelukkig is die pryse vir dié gewas op redelike goeie vlakke.
As dit kom by uitdagings, meen Strydom dat die voorsienningsketting wêreldwyd onder erge druk verkeer en dat insetverskaffers sukkel om produkte, soos byvoorbeeld groter stukke toerusting en onderdele, vinnig en betyds in die land te kry. Hy gee egter die versekering dat daar hard agter die skerms gewerk word om hierdie uitdaging aan te spreek. Op eie bodem het die sektor te kampe met die impak van die vloede in KwaZulu-Natal en die gebrekkige toestand van staatsondersteunde infrastruktuur, terwyl agribesighede en individuele balansstate aansienlik moet groei om die verhoogde koste-effek op die sektor te absorbeer.
Gereelde gesprekke met groot insetverskaffers soos Engen, Bayer, Corteva, Syngenta en John Deere dra volgens Strydom daartoe by dat Senwes, tesame met hierdie vennote, verseker dat produsente voorraad het om te produseer en dat daar deurlopend gewerk word om ʼn beter en meer egalige werking van die prysingsmeganisme te verseker. Laasgenoemde sal help om te verseker dat insetprodukte nie net betyds beskikbaar gestel word nie, maar ook dat die pryse meer bekostigbaar en kompeterend sal wees.