Verbod op die verskuiwing van beeste opgehef

  • 08 September 2022
  • 815
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Hierdie besluit is gegrond op inligting en terugvoer wat vanaf staatsveeartse, private veeartse en dieregesondheidstegnici ontvang is. Volgens die minister het die samewerking van tradisionele leiers, gemeenskappe en die polisie daarin geslaag om die verspreiding van die siekte te beperk.

In haar verklaring sê Didiza dat dit bemoedigend is dat geen gevalle van die siekte voor of gedurende die verbod in die Noord-, Wes- en Oos-Kaap aangemeld is nie. In Gauteng en Noordwes is vermoedelike gevalle van die siekte rondom plase onder kwarantyn aangemeld. Geen nuwe gevalle is die afgelope week in Mpumalanga aangemeld nie.

“Ons sal diesiektebeheergebied in en om die beskermde gebied in Limpopo behou. In die Vrystaat sal die siektebeheergebied daardie gebiede insluit waar geen verbetering opgemerk is nie, soos Marquard, Viljoenskroon en Harrismith.”

In KwaZulu-Natal sal die siektebeheergebied behou word in KwaNongoma, Ulundi, KwaHlabisa, eHluhluwe en eMtubatuba.

Voorwaardes vir die verskuiwing van diere

Die verskuiwing van diere moet in oorleg met die volgende voorwaardes gepaard gaan:

  • ʼn Verklaring deur die eienaar dat die diere teen bek-en-klouseer ingeënt is;
  • ʼn Onderneming deur die ontvanger dat die diere vir minstens 28 dae in kwarantyn geplaas sal word; en
  • Die beskikbaarstelling van alle nodige dokumentasie om vee-eienaarskap te bewys.

Die minister het voorts die versekering gegee dat die departement sal voortgaan met die monitering en inenting in gebiede met aktiewe besmettings. Sy rig voorts ʼn beroep op boere en gemeenskappe om aan alle nodige gesondheidsprotokolle te voldoen en die ontwettige verskuiwing van beeste en diere te vermy. Sy het ook ʼn versoek gerig vir opgeskerpte primêre dieresorg en die versterking van biosekerheidsmaatreëls deur alle boere, voerkrale en afslaers. 






Related Articles