Daar word reeds sedert die begin van die maand gewaarsku oor aansienlike stygings in brandstofpryse in Junie met skattings van tot R4 per liter vir sommige gebiede as verligting op die algemene brandstofheffing nie verleng word nie. Suid-Afrika het die week op hete kole gewag vir die departement van minerale hulpbronne en energie om aan te kondig wat die brandstofpryse vir Junie gaan wees, terwyl die internasionale prys vir ʼn vat olie deur die $122-merk gebreek het.
Siweya sê ʼn styging van R4 sal ʼn ernstige uitkringeffek op voedselsekerheid in die land hê. Daarom is dit noodsaaklik dat die regering alle lewensvatbare opsies moet oorweeg om die impak van kostedruk op voedselpryse te verlig. “Agri SA glo die verhoging van die dieselrabat aan die landbousektor sal die regering help om dit te doen. Dit is ook ʼn meer volhoubare opsie gegewe die huidige druk op die fiskus.”
Die landbousektor het reeds die impak van stygende brandstofpryse aan sy sak gevoel. Brandstof is een van verskeie produksiemiddele waarvan die prys skerp gestyg het en verskeie bedrywe in die sektor onder aansienlike druk plaas. Terwyl boere min beheer het oor pryse buite die plaashek, ervaar verbruikers dié kostedruk in die vorm van hoër voedselpryse.
Siweya sê die behoefte aan verligting vir boere is veral dringend omdat verskeie bedrywe in die landbousektor – onder meer somergrane en sitrus – nog oes, terwyl wintergewasse geplant word. “Dit maak hierdie kommoditeite gevoelig vir die huidige prysstyging en lig die behoefte uit aan toegespitste en volhoubare ingryping wat ‘n demper op voedselpryse in die komende maande kan plaas.”
Hy voeg by die plaaslike landbousektor ontvang so te sê geen direkte steun by die staat in vergelyking met hul internasionale eweknieë nie. Die dieselrabat is ʼn welkome maatreël wat die plaaslike bedrywe beskerm teen internasionale mededingers wat aansienlike subsidies en ander staatsteun geniet.
Siweya stel voor dat die persentasie brandstof waarvoor boere vir verligting van die padongelukfonds en brandstofheffing in aanmerking kom, verhoog word, of dat die persentasie verligting van die brandstofheffing verhoog moet word. Só ʼn ingryping sal volgens hom die impak van brandstofprysstygings versag en boere se winsgewendheid verseker.
Die departement het intussen aangekondig dat die tydelike verligting van R1,50 per liter op die brandstofheffing tot 5 Julie verleng sal word. Tot 2 Augustus sal die verligting tot 75c per liter verminder word.
* Die artikel het oorspronklik in Landbou.com verskyn.