Een van die probleme met die hou van hierdie statistieke is dat die voorvalle aangeteken word, maar nie hoeveel vee op ʼn slag gesteel word nie. Ongeveer 21 500 skape, 14 600 beeste en 14 134 bokke is volgens die polisie in die laaste kwartaal van die 2021-’22-boekjaar in die land gesteel.
Die meeste veediefstal word by die Impendle-polisiekantoor naby Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal aangemeld, gevolg deur Mthatha in die Oos-Kaap.
Luidens die jongste statistieke vir die kwartaal van begin Januarie vanjaar tot einde Maart het veediefstal in drie provinsies, Gauteng (8%), die Oos-Kaap (13%) en Wes-Kaap (17%) gedaal. Limpopo het die skerpste styging (42%) in veediefstal ondervind. Die Vrystaat en die Noord-Kaap (9% elk) en KwaZulu-Natal (7%) het toenames in veediefstal aangemeld.
Volgens Willie Clack, voorsitter van die nasionale veediefstalvoorkomingsforum, het veediefstal egter landwyd afgeneem. Clack het nie ‘n kwartaalsyfer verskaf nie, maar sê veediefstal het vir die 2020-’21 boekjaar afgeneem, vergeleke met die 2021-’22 boekjaar.
Hy sê die getal beeste wat gesteel is, het met 6% afgeneem en die getal skape met 16%. Die diefstal van bokke het met 5% gestyg. Veeboere en lede van veiligheidstrukture bevraagteken egter dié dalende syfers.
Cecelia Beukes van die veediefstalinligtingsentrum op Ermelo sê boere meld nie veediefstal aan nie omdat niemand in hegtenis geneem word nie. “Hulle sien nie kans vir die rompslomp en onbevoegdheid van sommige polisielede wat nie eens weet hoe om ʼn verklaring af te neem nie.” Die vraag wat baie boere daarom vra, is wat is die nut daarvan om ʼn veediefstalklag in te dien?
Volgens Beukes het skaapdiefstal afgeneem omdat baie boere nie meer skape het nie en die oorblywende boere maak van wagte en tegnologie gebruik vir beveiliging Sy sê die plekke waar gesteel word, word minder, maar die getalle per diefstal word meer.
Dr Jane Buys, veiligheidsrisiko-analis by Vrystaat Landbou (VL), sê in die provinsie styg veediefstal jaarliks. Volgens VL se statistieke word die meeste veediefstal in Ficksburg, Ladybrand, Vrede, Selosesha en Harrismith aangemeld. Harrismith en Selosesha is onder die 30 polisiekantore in die land waar die meeste voorvalle van veediefstal aangemeld word.
In Ladybrand, wat naby die Lesotho-grens is, het veediefstal verdubbel, van tien aanmeldings tot 21, vergeleke met dieselfde kwartaal in 2021.
* Die artikel het oorspronklik in Rapport verskyn.