Sojabone word nou op ʼn nuwe rekord van 2,15 miljoen ton gestel, wat 2,9% of 60 000 ton meer is as die vorige skatting. Die geskatte oppervlakte onder sojabone is 925 300 ha en die verwagte opbrengs is 2,33 t/ha.
Mielies
Volgens Wandile Sihlobo, hoofekonoom van die landbousakekamer Agbiz, lyk die vooruitsigte vir die someroes uitstekend, veral gegewe die negatiewe uitkoms wat baie mense aan die begin van die seisoen voorspel het. Hy verduidelik dat die nuwe verwagte mielie-oes van 14,7 miljoen ton beteken dat Suid-Afrika in sy eie huishoudelike behoeftees van sowat 11,8 miljoen ton sal kan voorsien terwyl daar ook ʼn surplus sal wees om uit te voer.
Hy reken dat sowat 3 miljoen ton mielies uitgevoer sal word, wat wel minder is as verlede jaar se sowat 4 miljoen ton. Die gehalte van dié mielies sal fyn dopgehou word soos wat die oesproses, wat vertraag was, voortduur.
Die NOK se skatting van die oppervlakte onder mielies is nou 2,6 miljoen ha, terwyl die verwagte opbrengs op 5,61 t/ha gestel word. Die geskatte mielie-oes is 10% kleiner as die 2021-oes. Die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes is die belangrikste mielieproduserende gebiede en sal na verwagting ongeveer 82% van die 2022-oes produseer.
Die oppervlakte onder witmielies is 1,58 miljoen ha en vir geelmielies is die oppervlakte 1,04 miljoen ha. Die produksieskatting van witmielies is onveranderd gelaat op 7,47 miljoen ton, terwyl die opbrengs van witmielies 4,74 t/ha is. In die geval van geelmielies is die produksieskatting 7,24 miljoen ton, wat 0,05% of 35 000 ton meer is as die vorige skatting. Die opbrengs van geelmielies is 6,91 t/ha.
Ander gewasse
Sonneblomsaad se produksieskatting is met 4% of 38 600 ton afwaarts aangepas tot 922 750 ton. Die oppervlakteskatting is 670 700 ha en die verwagte opbrengs is 1,38 t/ha.
Grondbone se skatting is met 10,8% afwaarts aangepas. Die verwagte oes is nou 49 000 ton teen ʼn opbrengs van 1,13 t/ha.
Die skatting vir sorghum is nou 136 200 ton wat 3% laer is as die vorige skatting.
Droëbone is ook met 3% afwaarts aangepas tot 51 720 ton.