Die hittegolf wat tans groot dele van die land in ʼn wurggreep het, sal volgens Van den Berg nog tot die naweek voortduur, terwyl ʼn laagdrukstelsel in die laaste week van Januarie weer vir reën in die somerreënstreek kan sorg.
Kanse vir reën
Volgens Van den Berg het die temperature in die somergraanstreek oor die afgelope twee weke aansienlik gestyg, en het dit plek-plek tot droogteskade gelei. Die ligte neerslae wat voorspel word vir die naweek, kan teen 21 Januarie verligting bring.
ʼn Trog laagdruk sal teen die laaste week van Januarie oor Namibië en Botswana ontwikkel, en suidwaarts beweeg en neerslae vir dele van die Noord-Kaap, die Vrystaat en meer ooswaartse gebiede bring. Van den Berg meen egter dat dié stelsel beïnvloed kan word deur die moontlike ontwikkeling van ʼn tropiese laagdrukstelsel oor Madagaskar, wat vog weg van Suid-Afrika kan voer.
Midsomerdroogtes hou gevaar in
Volgens Van den Berg moet die huidige midsomerdroogtes fyn dopgehou word, aangesien dit baie lanklaas gebeur het. Hy sê dat dit gewoonlik baie tipies is dat La Niña-verskynsels gekenmerk word aan nat en koeler toestande gedurende die midsomer.
Die huidige situasie herinner, volgens Van den Berg, sterk aan die El Niño-stelsel van die 2015-2016-seisoen. Ter illustrasie hiervan noem hy dat ʼn plek soos Prieska in die Noord-Kaap ʼn gemiddelde maksimum temperatuur in die eerste helfte van Januarie 2016 van 38,2° C gehad het. Vir dieselfde periode in 2022 was die gemiddelde maksimum temperatuur 32,7° C, byna 4° C koeler as in 2023. Tydens die eerste La Niña-stelsel in die huidige reeks van drie La Niña-stelsels, in 2021, was die gemiddelde maksimum temperatuur vir die eerste 15 dae van Januarie nog koeler op 30,5° C.
As daar na die reënvaltoestande van 2010, wat ʼn soortgelyke jaar as vanjaar was, was die reën van 1 Januarie tot einde Maart gemiddeld tot ondergemiddeld vir byvoorbeeld ʼn plek soos Reitz in die Oos-Vrystaat, wat toe 145 mm gekry het teenoor die langtermyngemiddeld van 298 mm vir die drie maande.
Upington in die Noord-Kaap het tydens die La Niña-stelsel van 2010-2011, 2020-2021 en 2021-2022 bogemiddelde reënval gekry. In die oorgangseisoen, 2011-2012, het ondergemiddelde reënval van Januarie tot Maart voorgekom. In April 2012 het daar egter bogemiddelde reënval voorgekom op Upington.
Gevaarligte flikker
Volgens Van den Berg kan die verandering in die stelsel die gevaarligte laat flikker in terme van ʼn gebrek aan reënval vir die belangrike maande van Februarie en Maart. Hy verduidelik dat hoewel daar baie ondergrondse vog is, die grond oor die algemeen ten beste nie meer as ʼn maand of ses weke met min reën klaarkom sonder om droogtestremming te induseer op plante nie, veral nie in die baie warm toestande wat tans ervaar word nie.
Hy voeg by dat baie grond met ʼn swakker waterhouvermoë of kleigrond wat water stadig vrystel, reeds binne dae of enkele weke droogtestremming veroorsaak. Baie grane is ook laat aangeplant en hul kritieke groeifases sal in Februarie en Maart voorkom, wanneer grane in die blom-en pitvulstadiums gaan wees.