SA se nuwe kragplan | Wat jy moet weet

  • 26 July 2022
  • 1093
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Hiermee die krisisplan in ʼn neutedop.

Lisensiedrempel val weg

Die drempel vir lisensies op private kragopwekking sal heeltemal verwyder word om groter private belegging aan te moedig. Alle projekte sal by die nasionale energiereguleerder geregistreer moet word en moet aan die omgewingsregulasies voldoen. Die drempel is verlede jaar van 1 MW tot 100MW verhoog, maar sal nou heeltemal verwyder word sodat meer projekte gebou kan word sonder die nodigheid om vir ‘n kragopwekkingslisensie aansoek te doen.

Groen-tender verdubbel in grootte

Nuwe kragopwekking van hernubare energie, gas en batteryberging sal aangekoop word. Die betrokke staatsdepartemente sal sorg dat bouwerk betyds begin met ʼn pragmatiese benadering tot die vereistes vir plaaslike inhoud, sodat die kragstasies so gou as moontlik gebou kan word. Die departement van handel, nywerheid en mededinging en die kantoor vir onafhanklike kragprodusente sal meer besonderhede hieroor gee.

Die hoeveelheid krag wat via die staat se sesde bodronde vir hernubare krag aangekoop sou word, sal van 2 600 MW tot 5 200 MW verdubbel word. Nog bodrondes sal op ʼn versnelde grondslag geopen word.

Krisiskomitee in die presidensie

ʼn Nasionale energiekrisiskomitee sal onder leiding van die direkteur-generaal in die kantoor van die presidensie gestig word. Dit sal al die betrokke staatsdepartemente byeenbring om kragverskaffing te koördineer. Die beste beskikbare kundigheid uit die sakesektor, die arbeidsektor, professionele ingenieursentiteite en die burgerlike gemeenskap sal benut word. Die betrokke ministers sal gereeld regstreeks aan die president verslag doen.

Groter begroting vir instandhouding

Oor die volgende 12 maande sal Eskom sy begroting vir kritieke instandhouding verhoog om die betroubaarheid van kragopwekking te verbeter. Rompslomp wat Eskom probleme gee het om onderdele vinnig en betyds te koop om die nodige instandhouding te doen, sal uitgesny word.

Ingenieurs word gewerf

Eskom sal vaardige personeel, soos voormalige Eskom-aanlegbestuurders en ingenieurs, uit die private sektor werf. Vorige Eskom-ingenieurs het vrywillig na vore gekom om die huidige personeel te help om seker te maak wêreldklas-prosedures word gevolg.

Ekstra krag van myne gekoop

Eskom sal oor die volgende drie maande dringend ekstra kragopwekking koop van bestaande onafhanklike kragprodusente wat meer kapasiteit gebou het as wat nodig was. Dié ekstra krag sal nou aan Eskom gelewer word.

Eskom sal ook bykomende krag aankoop by bestaande private kragopwekkers soos myne, papiermeulens, winkelsentrums en ander.

Meer krag van Botswana, Zambië ingevoer

Bykomende krag gaan ingevolge die Suider-Afrikaanse Kragpoel-reëlings van buurlande soos Botswana en Zambië aangekoop word.

Spesiale wetgewing, maar nie ʼn ramptoestand

Spesiale wetgewing sal in die parlement voorgelê word om vir ʼn beperkte tyd ʼn versnelde reguleringsproses vir die goedkeuring van nuwe kragopwekking daar te stel. Intussen sal sekere vereistes opgeskort of verslap word, soos sonkrag in gebiede met ʼn lae of middelslag-omgewingsimpak.

Eskom sal kraglyne kan bou in gebiede met lae en middelslag-omgewingsensitiwiteit. ʼn Enkele toegangspunt sal vir goedkeuringsaansoeke vir energieprojekte geskep word. Dit is om vertragings van maande en jare te vermy. Alle tydroosters sal hersien word sodat aansoeke dringend verwerk word.

Eie sonkrag aangespoor

Ondernemings en huishoudings word aangemoedig om sonkrag te installeer en dit aan die netwerk te koppel. Om dit aan te spoor, sal Eskom reëls en ʼn prysstruktuur ontwikkel sodat mense vergoed word vir die ekstra krag wat hulle aan die netwerk verkoop.

Mededingende kragmark geskep

Breër hervormings om ʼn mededingende kragmark te skep, sal versnel word. Dit sal energiebronne diversifiseer en kragsekerheid verbeter. Meer private en staatsbeheerde maatskappye sal in die kragmark kan deelneem, hoewel die kragnetwerk steeds in staatsbesig sal bly.

* Hierdie artikel is oorspronklik deur Netwerk24 gepubliseer.






Related Articles