Groter internasionale prysskommelinge, die de-globalisering en groeiende spanning tussen moondhede het direkte impak op die primêre bedrywe soos landbou. “Die plaaslike omstandighede maak die bedryfsomgewing ook nie makliker nie, en sien ons toenemend dat faktore wat buite landbou se direkte beheer is die bedryf se lewensvatbaarheid beïnvloed.” sê Wilken.
Die landboubedryf bly die kern rolspeler om ekonomiese groei, werkskepping en voedselsekerheid in die land te verseker. Daarom is VL se strategiese doelwit om die landboubedryf in sy geheel te sien groei.
Ten einde ʼn strategie te formuleer het VL daarom ses belangrike areas wat die landboubedryf se plaaslike lewensvatbaarheid beïnvloed uitgelig. Hierdie is ook die faktore wat volgens die organisasie die groei van die landbousektor in SA bepaal:
- Landelike / Landbou Ontwikkeling – Eiendomsreg, Grondhervormingsbeleidsrigting en verantwoordbaarhouding van ondoeltreffendheid in staatsadministrasie, bv. in terme van biosekuriteit (dieresiektes en higiëne wat sleutel is vir die fasilitering van uitvoere) en wetstoepassing en uitvoering en vernuwing waar nodig.
- Veiligheid en Sekuriteit (Veediefstal, diefstal en vandalisme van plaasinfrastruktuur, plaasaanvalle, spoor-infrastruktuur diefstal en vandalisme).
- Infrastruktuur (plattelandse paaie, kommunikasie netwerke, betroubare elektrisiteitsvoorsiening, water, besproeiingsinfrastruktuur en waterregte-toekenning, hawens, spoorstelsels en planne vir mangaan trokke).
- Winsgewendheid – invloed van internasionale politiek en impak op uitvoermarkte en stygende plaasinsetkoste.
- Betrokkenheid van Jongboere (om die nuwe geslag landbou en landelike gemeenskapsleiers op te lei).
- Bemagtiging van landbouverenigings (om lede doelgerig betrokke te kry by die grondvlak strukture van Landbouvereniging).
Uit die bogenoemde faktore is dit duidelik dat baie van landbou se uitdagings ekstern van aard is. Aan die eenkant getuig dit van landbou se vernuf om bedryfs-eie uitdagings te oorkom. Aan die anderkant wys dit ook daarop dat landbou nie geïsoleerd kan wees van die polities-maatskaplike uitdagings nie en meer aktief moet raak in verhoudings binne gemeenskappe.
Daarom sal VL tydens sy Jaarkongres ʼn spesiale sessie hê oor die bemagtiging van sy grondvlakstrukture, naamlik die landbouverenigings, oor hoe om die kern kwessies aan te pak om veerkragtige ekonomiese volhoubare boerdery en lewendige plaaslike gemeenskappe te bou.