China hef SA wolverbod op

  • 24 Augustus 2022
  • 1111
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



China wat tussen 70% en 80% van Suid-Afrika se wol koop, het in April die verbod ingestel nadat ʼn uitbreking van bek-en-klouseer in Maart in Gauteng, Noordwes en die Vrystaat aangemeld is.

“Ons is dankbaar en glo die onderhandelinge tussen die Suid-Afrikaanse regering en China het gehelp in die opheffing van die verbod,” sê Leon de Beer, hoof van die Nasionale Wolkwekersvereniging.

Die wolseisoen het pas aangebreek en pryse en volumes was verlede week op die eerste veiling van die seisoen laer as gewoonlik weens die verbod.

De Beer sê die wolprys was in dollarterme sowat 11% laer as gewoonlik, maar dat die swak rand dit deels geabsorbeer het. Produsente het tussen 4,9% en 5,9% minder vir hul wol ontvang. “Dit is uitstekende nuus en ons glo wolboere gaan baat vind by die opheffing van die verbod,” sê De Beer. Hy meen voorts wolprodusente behoort op die volgende veiling goeie pryse te behaal.

Wol word teen ʼn vasgestelde tydperk en temperatuur geberg om te verseker dat bek-en-klouseer nie kan versprei nie en hoewel die wolbedryf hierby gehou het, het China die invoer van wol verbied.

Geen bek-en-klouseer-gevalle is tot dusver in die land se grootste wolproduserende streke aangemeld nie.

*Die artikel het oorspronklik op Netwerk24 verskyn.

 






Verwante Artikels