Volgens die FDA moet mense onder geen omstandighede middels soos ivermektien gebruik wat eintlik vir diere bedoel is nie. Dit volg nadat die gebruik van dié middel in Amerika die hoogte in geskiet het, veral in die deelstaat Mississippi waar tot twee derdes van die inwoners aktief van die middel gebruik maak.
ʼn Verslag wat deur die FDA saamgestel is toon dat 85% van diegene wat die middel gebruik, matige newe-effekte aangemeld het, terwyl ander vir verdere mediese waarneming gestuur is. Die aangemelde newe-effekte sluit onder meer in naarheid, braking, diarree, lae bloeddruk, allergiese reaksies, hartaanvalle, komas en selfs die dood.
Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het ook vroeër vanjaar ʼn dokument gepubliseer waarin hulle aanvoer dat die uitwerking van ivermektien op sterflikheid, meganiese ventilasie, hospitaalopnames en die verloop van Covid-19 steeds onduidelik is.
Op eie bodem – twee kante van dieselfde muntstuk
Op eie bodem heers daar ook groot polemiek oor die menslike gebruik van ivermektien. Van die (uiteenlopende) sieninge sluit in:
Anti-ivermektien
Die Suid-Afrikaanse Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (Sahpra) is van mening dat wetenskaplike bewyse tans onoortuigend is vir die gebruik van Ivermektien vir die behandeling van Covid-19. Saphra het vroeër beperkte goedkeuring verleen vir die sogenaamde “deernis-gebruik” van die middel om Covid-9 te behandel in ʼn verbruikersformule wat geskik is vir menslike gebruik.
Dr Hanél Sadie-Van Gijsen van die Sentrum vir Kardio-metaboliese Navorsing in Afrika (CARMA) aan die Universiteit van Stellenbosch meen op haar beurt dat inentings, en nie ivermektien nie, die enigste moontlike weg uit die pandemie is. In ʼn onlangse meningsartikel vir TimesLive, sê sy dat daar teen Julie vanjaar reeds 75 kliniese proewe vir die gebruik van ivermektien vir Covid-19 gelys was op ClinicalTrials.gov, ʼn gesaghebbende wêreldwye databasis vir alle goedgekeurde en geregistreerde middelproewe.
Die meeste van hierdie proewe is egter nog nie afgehandel nie, en volgens dr Sadie-Van Gijsen daar sal ongetwyfeld nog soortgelyke proewe in die nabye toekoms bygevoeg word, wat beteken dat dit nog lank sal duur alvorens daar ʼn finale besluit oor die effektiwiteit van ivermektien sal wees.
“Die hele inenting-versus-ivermektien debat probeer ons wysmaak dat dit 'n gedwonge keuse is: óf die een, óf die ander, maar dit is nie die regte manier om daarna te kyk nie. Selfs al wys die proewe dat ivermektien, of inderdaad enige ander middel, fantasties werk vir die voorkoming of behandeling vir Covid-19 sal sulke middels nooit vir ons die weg uit die pandemie kan baan nie,” sê sy.
Die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Narkotiseurs (Sasa) en die Kritiekesorg-vereniging van Suid-Afrika (CCSSA) spreek hul kommer uit dat sommige mense die gebruik van ivermektien as ʼn alternatief tot entstowwe beskou.
Hulle moedig alle Suid-Afrikaners aan om hulle te laat inent. Beide hierdie instellings voer aan dat ivermektien verkeerdelik as ʼn wonderkuur vir Covid-19 beskou word, en beveel daarom nie die gebruik daarvan aan om te keer dat iemand die virus opdoen of vir die behandeling daarvan nie. Hulle bepleit ook dat meer wetenskaplike navorsingsdata benodig word.
Pro-ivermektien
Intussen stel die Solidariteit Navorsingsinstituut dit dat onlangse navorsing toon dat ivermektien waarskynlik doeltreffend is vir die behandeling van Covid-19. Volgens ʼn verklaring wat in die verband uitgereik is, meen Solidariteit dat dit “ondenkbaar” is dat die middel nie lankal reeds as ʼn moontlike behandeling vir die virus ingesluit is nie. Dr Connie Mulder, hoof van dié navorsingsinstituut, sê dat die middel nie in ʼn óf-óf- verhouding met entstowwe staan nie, maar eerder in ʼn en-en-verhouding. “Enige behandeling van Covid-19 staan nie teen entstowwe nie en dit moenie as sodanig gesien word nie. Ons moet egter voorkoming sowel as behandeling gebruik ten einde die siekte te oorwin,” verduidelik Mulder.
Die burgerregte-organisasie AfriForum en die I can make a difference-doktersgroep het vroeër vanjaar ʼn dringende brief aan verskeie gesondheidsowerhede gestuur waarin daar versoek word dat ivermektien vir die behandeling van Covid-19 aanbeveel moet word. Dié brief is gerig aan die ministeriële raadgewende komitee oor Covid-19, die Departement van Gesondheid, Sahpra en die parlementêre portfoliokomitee vir Gesondheid.
“Ongewone omstandighede vereis ongewone optrede. Die wêreldwye pandemie is al meer as ’n jaar aan die gang en ons werk steeds aan die ontwikkeling van doeltreffende behandelings teen Covid-19. Wat ons wel weet, is dat dit jare gaan neem om genoeg van die bevolking te immuniseer sodat hulle doeltreffende en veilige immuniteit kan hê. As ʼn mens dit in ag neem, is dit onverantwoordelik om toe te kyk hoe mense doodgaan aan COVID-19 terwyl jy weet daar is ’n veilige geneesmiddel wat tot hul behandeling toegevoeg kan word,” sê dr Naseeba Kathrada, stigter van die I can make a difference-doktersgroep.
Op sy beurt meen Barend Uys, hoof van navorsing by AfriForum dat bewyse toon dat ivermektien ’n kritieke rol kan speel in die stryd teen die pandemie. “Die tyd het aangebreek dat voorkombare sterftes gekeer word en ’n stokkie gesteek word voor die vernietiging van lewens en inkomste wat met inperkings gepaard gaan. Dit is tyd om ivermektien aan te beveel vir die behandeling van Covid-19,” sê Uys.