Die ware koste van landboumisdaad in SA

  • 17 Januarie 2023
  • 434
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



In hierdie meningsartikel klop die landboujoernalis, Annelie Coleman, by verteenwoordigers van Vrystaat Landbou en Agri Securitas aan om meer uit te vind oor die ware koste van landboumisdaad. Sy gebruik die Vrystaat as ʼn gevallestudie.

Die Vrystaat as Suid-Afrika se broodmandjie

Daar word dikwels na die Vrystaat verwys as die broodmandjie van Suid-Afika.

Volgens dr Jane Buys, veiligheids-en risiko-ontleder by Vrystaat Landbou (VS), produseer dié provinsie sowat 70% van die land se graan. Hierbenewens kom 40% van die land se jaarlikse mielie-oes ook uit die provinsie, asook groot hoeveelhede sorghum (37%), sojabone (34%), koring (18%), grondbone (35%), sonneblomsaad (56%), melk (22,4%, wol (23%), kersies (90%) en rooivleis (14,6%).

Dr Buys voeg by dat elke boer in die Vrystaat, jaarliks ongeveer 3 028 mense voed, terwyl die landbousektor ook ʼn groot bron van indiensneming is. Navorsing toon egter dat, in 2017 alleen, ongeveer 5 454 poste in die provinsie se kommersiële landbousektor verlore gegaan het as geval van misdaad.

Vervolgens dui dr Buys aan dat, volgens die Agri SA 2018 Nasionale Landbousektor Misdaadopname, die regstreekse koste van landboumisdaad in Suid-Afrika in 2017 R5, 45 miljard beloop het, terwyl die vervangingskoste as gevolg van landboumisdaad op sowat R2,3 miljard gereken is

“Boere het hulself in plaaswag- en/of beheerkamerstrukture georganiseer sonder enige finansiële ondersteuning hoegenaamd van die staat. Die koste daaraan verbonde is nog nooit in Agri SA se nasionale opname ingesluit nie,” sê dr Buys en voeg by dat daar tans 24 beheerkamers in die provinsie is en aangesien die bedryfskoste van kamer tot kamer verskil, die aanduiding is dat boere jaarliks tussen R2 000 en R37 000 betaal om hierdie diens aan die gang te hou.

Hierbenewens betaal boere om deel te neem aan plaaslike wit/bloulig-misdaadvoorkomingsinisiatiewe in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD).  ʼn Opname wat deur VL onderneem is in die Virginia-distrik toon gevolglik aan dat die boerderysektor jaarliks in hierdie omgewing tussen R954 000 en R3,1 miljoen aan hierdie inisiatiewe bestee.

Diefstal | Mielies en eiendom

Nog 'n VL-opname het getoon dat kommersiële boere in die Vrystaat gedurende 2020 'n geraamde R234 miljoen verloor het weens mieliediefstal. Dit het ook aangedui dat die meerderheid boere nie veiligheidswagte in diens geneem het om hul veldgewasse te beskerm nie, aangesien hulle beweer het dat dit dié uitgawe te duur is.

Volgens dr Buys het boere wat wel wagte in diens geneem het, aangedui dat hulle tussen ses en 12 wagte moes aanstel teen ʼn bykomende totale maandelikse salarisuitset van R21 000 tot R42 000.

Van die boere naby of op die Lesotho-grens het gesê dat hulle tussen agt en 12 veiligheidswagte in diens geneem het om hul veldgewasse en vee teen oorgrensmisdade te beskerm.

ʼn 2022 VL-opname onder kommersiële produsente het die fokus op die diefstal van diesel geplaas. Die resultate het getoon dat soveel as 7,3 miljoen liter diesel jaarliks in die Vrystaat weens diefstal verlore gaan. As die prys van diesel op R21/l gestel word, verteenwoordig dit ʼn jaarlikse verlies gelykstaande aan tussen R76,3 miljoen en R152,6 miljoen.

Dr Buys voeg by dat die lys van eiendomsverwante misdade omvattend is, en dat dit die diefstal van koperkabels, boerderytoerusting, vee en landbouprodukte insluit. Bewyse dui in hierdie verband daarop dat misdade wat die diefstal van saad, mieliekoppe, diesel en kunsmis in die provinsie behels, deur goed georganiseerde sindikate gepleeg word.

Miljoene bestee aan tegnologie

Volgens dr Buys het baie produsente, boereverenigings en landbou-unies sekuriteitskamerastelsels in hul gebiede geïnstalleer in 'n poging om misdaad te help voorkom.

VL raam dat die bestaande kameranetwerk die provinsie se boerderysektor tot dusver meer as R100 miljoen gekos het. Voorts het baie boere ook hommeltuie gekoop en gebruik hulle dié tegnologie om die diefstal van hul vee te voorkom.

Die koste wat Vrystaatse boere tot dusver aangegaan het om alarms en ander sekuriteitstelsels rondom hul huise en eiendomme op te rig, word ook op altesaam R100 miljoen geraam. Soos tegnologie verbeter, moet stelsels opgedateer of nuwes ingestel word, wat beteken boere moet selfs meer geld bestee om hul lewens en lewensbestaan te beskerm.

Agri Securitas

Cobus van Zyl, voorsitter van die Agri Securitas Trustfonds, sê die kwessie van die Suid-Afrikaanse boeregemeenskap se veiligheid is ook een van nasionale voedselsekerheid. Landboumisdaad is dus nie net 'n probleem waarmee boere te kampe het nie; dit is 'n kwessie wat die hele land raak. Om hierdie rede glo hy dat dit noodsaaklik is dat boere die ondersteuning ontvang wat hulle nodig het om hulself, hul gesinne en hul werkers te beskerm.

Agri Securitas se raad van trustees het onlangs 'n R1,9 miljoen-uitbetaling goedgekeur om landelike veiligheidsprojekte te ondersteun. Die trustfonds is in 1999 gestig en het sedert sy ontstaan meer as R16 miljoen tot landelike veiligheidsinisiatiewe bygedra, danksy skenkings van die private sektor.

“Die bykomende koste om hulself en hul besighede teen misdadigers te beskerm, het ’n ernstige impak op Suid-Afrika se boere, wie se winsgrense reeds papierdun is. En, dit wat in die Vrystaat gebeur, gebeur in die ander provinsies,” sê Van Zyl.

Wetsoortreding, geweld en korrupsie gooi volgens Van Zyl ’n baie donker skadu oor die langtermyn volhoubaarheid van die totale landbouwaardeketting. Hy vergelyk die situasie met dié van luislang wat sy prooi stadig maar doeltreffend versmoor.

“Daar is ongelukkig baie gevalle van boere wat so moedeloos geraak het deur hierdie immer tikkende misdaadtydbom dat hulle opgehou het om te boer,” sê Van Zyl.

* Hierdie artikel het oorspronklik in die Farmer’s Weekly verskyn.






Verwante Artikels