Kosvermorsing in SA – skokkende statistieke

  • 06 September 2021
  • 1886
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Op die keper beskou beteken dit dat huishoudings in van die groot stede jaarliks tussen 6 kg en 12 kg kos per persoon in munisipale asblikke gooi. Hierdie vermorsing sluit in meer as 20% van alle groente en vrugte wat gekoop word, 17% van alle olies en smaakmiddels en 14% van melk en graangewasse.

Die onderskeid tussen voedselverliese en kosvermorsing

Daar is ʼn wesenlike verskil tussen voedselverliese en kosvermorsing.

Voedselverliese dui op voedsel wat die plaashek verlaat en nie die verbruiker bereik nie. Dit dui voorts op verliese tydens die oes- en verwerkingsproses. Kosvermorsing dui op kos wat verlore gaan omdat dit ongeëet in asblikke van huishoudings, eetplekke en die handel beland.

Volgens prof Suzan Oelofse, hoofnavorser by die WNNR, is dit kommerwekkend dat kosvermorsing oor die afgelope agt jaar in Suid-Afrika van 5% tot 18% gestyg het. “Dié styging is kommerwekkend, omdat dit produkte van hoë waarde is wat vermors word en min geleentheid het vir heraanwending,” sê prof Oelofse en voeg by dat baie van hierdie vermorsing voorkom kan word.

Studie help om probleem van kosvermorsing aan te spreek

Volgens die WNNR se jongste kosvermorsingsverslag, wat in samewerking met die departement van wetenskap en innovasie (DSI) gedoen is, word daar gefokus op die tydperk vanaf April 2018 tot en met die einde van Maart 2021.

Dié verslag is nie net ʼn betroubare en wetenskaplike bron van data en inligting oor kosverlies en -vermorsing in Suid-Afrika nie, maar sal ook die rigting aangee tot voorkomende optrede. Volgens die Verenigde Nasies (VN) se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (SDG) moet daar wêreldwyd gepoog word om kosvermorsing op kleinhandel-en verbruikersvlak teen 2030 te halveer, en as ʼn ondertekenaar van dié doelwitte het Suid-Afrika ʼn belangrike rol om in hierdie verband te speel.

Volgens die verslag, kan die bydraes van die verskillende waardekettingrolspelers tot  die algehele verliese as volg opgesom word:

  • Produksie: 8%
  • Hantering en berging na die oes: 19%
  • Verwerking: 49%
  • Verspreiding: 6%
  • Verbruikersvlak: 18%

Prof Oelofse verduidelik dat hoewel die verwerkingsfase statisties tot die meeste vermorsing bydra, daar in ag geneem moet word dat dit onvermydelike vermorsing insluit, soos byvoorbeeld skille, pitte, bene en velle. Volgens die verslag is dit dan ook hierdie fase wat die meeste waarde toevoeg.

Tot na verwerking en verpakking beskou rolspelers in die voedselbedryf nie die verliese as vermorsing nie, omdat dit in ander produkte beland wat met die voedselbedryf verband hou, soos die ontrekking van ensieme of dierevoer.

Kosvermorsing bedreig voedselsekerheid

Volgens die WNNR dra kosvermorsing by tot voedselonsekerheid terwyl dit ook die ekonomie en die omgewing benadeel. Ter illustrasie hiervan verduidelik die WNNR dat die hoeveelheid water wat uit grond-en oppervlakwaterbronne onttrek word om kos in Suid-Afrika te produseer, gelykstaande is aan die inhoud van 680 000 swembaddens van Olimpiese grootte of sowat 33% van die inhoudsvermoë van die Gariepdam.

Wenke om vermorsing te beperk

  • Verbeterde kommunikasie tussen produsente en potensiële markte oor wat en hoeveel om te lewer.
  • Vind alternatiewe markte vir produkte van effens laer gehalte wat deur topmarkte verwerp word.
  • Beperk produksietegnieke wat produkte tydens die hantering en berging daarvan beskadig.
  • Handelaars kan plaaslike produsente ondersteun en so die vervoerafstand beperk.
  • Verlaag die pryse van produkte wat na aan die vervaldatum is om dit makliker te verkoop.
  • Skenk kos wat nie betyds verkoop of gebruik word nie, aan behoeftiges.
  • Deeglike beplanning sal daartoe bydra dat verbruikers net die nodige koop, net genoeg kos voorberei en berg.
  • Dit is onmoontlik om alle kosvermorsing uit te skakel, so maak ʼn kompos-houer vir vrugte en groenteskille. Dit versag nie net die klimaatsimpak nie, maar jy herwin ook belangrike voedingstowwe vir jou tuin.

* Die volledige artikel het in Rapport verskyn.






Verwante Artikels