Volgens Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, het hoër insetkoste, wrywing in sommige uitvoermarkte, die volgehoue voorkoms van dieresiektes, stygende rentekoerse, hewiger geopolitieke risiko’ en voortgesette swakhede in munisipale dienslewering en netwerkbedrywe tot dié daling bygedra.
Desondanks die afname dui die algemene punt van 53 steeds op versigtige optimisme in terme van Suid-Afrikaanse bedryfstoestande.
Ekonomiese toestande
Die grootste daling was in die subindeks rakende algemene ekonomiese toestande, waar vertroue met 19 punte tot 24 geval het. Volgens Sihlobo weerspieël dié daling die onsekerheid wat teweeg gebring is as gevolg van die mees onlangse globale geopolitieke spanning, inflasiekommer, stygende rentekoerse en ʼn algemene verlangsaming in die wêreldekonomie. Plaaslike kwessies soos die voortslepende beurtkrag en ondoeltreffendhede in netwerkbedrywe het ook tot die onsekerheid bygedra.
So vaar die subindekse
Vertroue in algemene landboutoestande het met 11 punte tot 42 gedaal, en is volgens Sihlobo is dit die laagste vertrouensvlak sedert die laaste kwartaal van 2019.
Landboubesighede betrokke by grane, finansiering en landbouchemikalieë was van die respondente met ʼn pessimistiese siening. Sihlobo verwag dat dié pessimisme in die komende kwartale kan verander omdat die weervooruitsigte op ʼn swak La Nina-stelsel dui, wat matige reën in die 2022/23-somerseisoen kan bring.
Produsente en landbousake-ondernemings trek steeds voordeel uit goeie gewaspryse. Hoewel die subindeks vir omset met 14 punte gedaal het, staan dit op 79, wat baie hoër is as die langtermyngemiddelde.
Sihlobo meen voorts dat produsente hul belegging in roerende bates – na twee goeie seisoene met groot oeste en hoër pryse, verhoog. Die indeks vir kapitaalbelegging het met 2 punte tot 71 gedaal, maar is steeds hoër as die langtermyntendens.
Ondanks uitdagings met die uitvoer van sitrus na die Europese Unie (EU), wol na China en rooivleis na sekere markte, het die subindeks vir volume uitvoer met slegs ʼn enkele punt tot 70 gedaal, wat dui op gesonde uitvoertoestande.
Ten opsigte van voorsiening vir swak skuld het die betrokke subindeks tot 39 gedaal, wat op gunstige toestande dui. Die subindeks vir finansieringskoste het met 7 punte tot 11 gestyg. Laasgenoemde weerspieël die stygende rentekoersomgewing.
* Die opname is in die eerste twee weke van September landwyd by landbousake-ondernemings in alle landbousubsektore gedoen.