Noordelike waterreserwes lyk goed vir die wintermaande

  • 01 Junie 2022
  • 866
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Noordwes se damme wat deur die departement van waterwese en sanitasie bestuur word, is 81% vol, in Limpopo staan die provinsiale damme se totale waterinhoud op 89% en Mpumalanga het byna 96% van sy totale waterkapasiteit opgevang.

Noordwes

In Noordwes is die Boskop-, Bospoort-, Buffelspoort-, Elandskuil-, Johan Neser-, Klerkskraal-, Klipvoor-, Marico-Bosveld-, Middelkraal-, Potchefstroom-, Rietspruit-, Roodekopjes-, Swartruggens- en Taungdam almal 100% of meer vol.

Hartbeespoort-, Sehujwane- en Vaalkopdam is meer as 90% vol. Van die damme in die provinsie se vlakke is egter volgens die departement kommerwekkend laag. Disaneng-, Klein Maricopoort-, Kosterrivier-, Madikwe-, Ngotwane- en Molatedidam se vlakke is almal laer as 50%.

Limpopo

In Limpopo is daar aansienlik meer damme wat 100% en meer vol is. Albasini-, Dap Naude-, Doorndraai-, De Hoop-, Ebenezer-, Flag Boshielo-, Glen Alpine-, Hans Merensky-, Klaserie-, Luphepe-, Magoebaskloof, Mokolo-, Mutshedzi-, Nandoni-, Nwanedzi-, Nzhelele-, Rust de Winter-, Tzaneen-, Vergelegen-, Vlugkraal-, Vondo- en Warmbaddam is almal tans besig om oor te loop of water word uitgelaat omdat die damme vol is.

Een van die damme waar water tans uitgelaat word om dat dit meer as 100% vol is, is die Doorndraaidam tussen Mokopane en Mookgophong in die Sterkrivier. Dié dam was 14 jaar laas vol en het verlede jaar hierdie tyd net sowat 40% water in gehad.

Mpumalanga

In Mpumalanga lyk die situasie nog beter en slegs enkele damme in die provinsie is nie 100% vol nie. Middelburg-, Morgenstond-, Nooitgedacht- en Westoedam is almal tussen 96% en 99% vol en Inyakadam se vlak staan op 86%.

Net twee damme in die provinsie het minder water as dit: Ohrigstaddam staan op 50% en die Rhenosterkopdam op 46%.






Verwante Artikels