Die finansiële resultate van die Senwes Groep weerspieël ʼn 30,4% toename in omset ten bedrae van
R6 680 miljoen (2022: R5 123 miljoen), terwyl verdienste voor rente, belasting, depresiasie en amortisasie van R518 miljoen tot R715 miljoen toegeneem het.
Kontantvloei gegenereer uit bedryfsaktiwiteite beloop R918 miljoen, wat 39,3% hoër is as die R659 miljoen wat gedurende die ooreenstemmende tydperk van die vorige jaar gegenereer is.
ʼn Wins toeskryfbaar aan ekwiteitshouers van die moedermaatskappy van R392 miljoen is gelewer, ʼn toename van 29,8% vanaf die R302 miljoen van die ooreenstemmende tydperk van die vorige jaar.
“Die groep se uitsonderlike resultate dui op ʼn goed gebalanseerde besigheid in terme van diversifikasie,” sê Francois Strydom, Groep Hoof Uitvoerende Beampte, en voeg by dat effektiewe kostebeheer, voortgesette doeltreffendheid en strategiese kapitaaltoewysing belangrike besigheidsfokusareas is, veral gegewe verhoogde inflasie- en handelsmarge druk. Behalwe vir spesifieke bedryfs- en makro-ekonomiese uitdagings, het faktore soos die voortgesette goeie landbouproduksie- en kommoditeitspryssiklusse ook ʼn impak op die besigheid se prestasie gehad.
Ander finansiële hoogtepunte is ʼn tussentydse dividendverklaring van 36 sent per aandeel (2022: 34 sent per aandeel), terwyl die netto batewaarde van die groep met 14,4% tot R20,6 per aandeel toegeneem het. ʼn Genormaliseerde wesensverdienste per aandeel van 249,4 sent is in die eerste ses maande gelewer, wat 34,3% hoër is as die 185,7 sent per aandeel vir die ooreenstemmende tydperk van die vorige jaar.
Vooruitsigte
Strydom meen dat marksentiment positief sal bly, soos die reënseisoen vir produsente van somergewasse ‘n aanvang neem. Senwes verwag om nog ʼn robuuste stel finansiële resultate te lewer wat die onderliggende sterkpunte van die sakemodel en die voortgesette uitvoering van sy strategiese doelwitte weerspieël.
EINDE
Navrae:
Francois Strydom
Groep Hoof Uitvoerende Beampte
Tel: +27 18 464 7115
E-pos: [email protected]
www.senwes.co.za
Elmarie Joynt
Groep Maatskappysekretaris en Hoof Regsadviseur
Tel: +27 184 647 104
E-pos: [email protected]
www.senwes.co.za