Vooruitsigte vir ʼn sopnat somersaaigebied

  • 05 Januarie 2022
  • 1368
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Volgens Van den Berg kan die La Niña-toestande tot Maart of April voortduur, wat beteken dat daar nog heelwat meer reën gaan val, veral oor die sentrale en westelike dele van die somersaaigebied.

Van den Berg meen die afgelope maand se swaar reën kan as ʼn eerste spits beskou word, en verduidelik dat wanneer die werklike reënseisoen vanaf die tweede deel van Januarie begin, ʼn tweede spits rondom Februarie bereik sal word. Laasgenoemde stel ʼn daadwerklike risiko vir vloede. ʼn Derde spits word rondom Mei verwag, maar sal na verwagting minder intens wees alhoewel dit probleme kan skep met die oes van sojabone, grondbone en sonneblom.

Risiko van moontlike vloedskade

Van den Berg verduidelik dat ʼn La Niña-stelsel gewoonlik bogemiddelde reënval tot byna die einde van die somerseisoen tot gevolg het.

Volgens hom lyk dit of daar nog heelwat neerslae oor die oostelike dele van die land verwag kan word tot in die eerste deel van Februarie. Van middel Januarie kan dit reeds begin uitbrei na die sentrale dele en later in die maand na die meer westelike dele.

In soortgelyke jare in die verlede met ʼn La Niña-stelsel, en veral met ʼn tweede agtereenvolgende La Niña-verskynsel soos in die mid-1970’s, het daar twee tot drie spitsreënvalperiodes voorgekom wat vloede veroorsaak het. Van den Berg waarsku dat daar ʼn risiko vir vloede in Januarie en veral Februarie is, met damvlakke wat baie hoog gaan bly wanneer ʼn tweede spits in reënval bereik kan word. Hy meen dit is veral die Benede-Oranjerivier, asook die laer Vaalrivier, wat die grootste vloedrisiko gaan ervaar. 






Verwante Artikels