Dit sluit die oostelike gedeeltes van die Noord-en Oos-Kaap, die Vrystaat, Noordwes, Gauteng asook KwaZulu-Natal en die Hoëveld van Mpumalanga in.
ʼn Weerwaarskuwing oor moontlike vloede plek-plek is ook vir vandag (Vrydag) uitgereik en die kanse bestaan dat die landbousektor, infrastruktuur en informele nedersettings in Noordwes, die noordelike gedeeltes van die Vrystaat en Gauteng ontwrig kan word.
Saterdag kan vloede plek-plek in die oostelike gedeeltes van die Noord-Kaap, die noordelike en oostelike gedeeltes van die Oos-Kaap, die westelike gedeeltes van KwaZulu-Natal en die Hoëveld in Mpumalanga voorkom.
Die reënerige toestande in die Noord-Kaap, die westelike gedeeltes van Noordwes asook die Vrystaat en noordwestelike gedeeltes van die Oos-Kaap sal volgens die weerdiens Sondag opklaar. Vloede kan egter Sondag plek-plek nog in die oostelike gedeeltes van Noordwes, die Vrystaat en die Oos-Kaap voortduur.
Volgens die weerdiens sal dié reënerige toestande met koue tot baie koue toestande gepaardgaan. Ligte sneeuval kan selfs vanaf Saterdagaand oor die oostelike en suidelike gedeeltes van Lesotho asook die omliggende Drakensberge verwag word.
Die publiek word versoek om paraat op te tree en om nie riviere en vol strome te probeer oorkruis nie, verwal waar die water meer as enkel diep is. Daar moet ook na hoër grond beweeg word indien stygende vloedwater enigiemand se veiligheid bedreig.