Ramptoestand volg na wydverspreide vloedskade regoor SA

  • 15 February 2023
  • 603
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Dié afkondiging is deur dr Elias Sithole, hoof van die nasionale rampbestuursentrum, gemaak na beraadslegging met provinsiale rampbestuursentrums en ʼn beraming van die omvang van die vloede se impak op sewe van die nege provinsies. Provinsies wat geraak word, sluit in die Oos-Kaap, Vrystaat, Gauteng, KwaZulu-Natal, Limpopo, Mpumalanga en Noordwes.

Ingevolge seksie 26 en seksie 23(8) van die Wet op Rampbestuur (Wet 57 van 2002) is die nasionale uitvoerende gesag se belangrikste verantwoordelikheid die koördinering van die bestuur van die ramp binne die raamwerk van die bestaande wetgewing en gebeurlikheidsmaatreëls.

Die rampverklaring is deur dr Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake onderteken.

Agri SA verwelkom die rampverklaring

Agri SA verwelkom die verklaring van ’n ramptoestand om die vloedskade in die Oos-Kaap, Mpumalanga, Gauteng, KwaZulu-Natal, Limpopo, die Vrystaat en Noordwes aan te spreek. Boere staar ongekende skade aan produkte, eiendom en lewensbestaan in die gesig, en gevolglik moet die verklaring opgevolg word deur die ontplooiing van hulpbronne om verligting aan boere te bied en kritieke infrastruktuur wat deur die vloede beskadig is, te herbou.

Die aankondiging volg op ’n week van swaar reënval, met nog reën wat vandeesweek verwag word. Benewens die skade aan private eiendom, het die oorstromings kritieke infrastruktuur vernietig. In dele van KwaZulu-Natal, waar vloede in 2022 reeds aansienlike skade aangerig het, is die gevolge katastrofies.

Ons doen ’n beroep op minister Dlamini-Zuma om maatreëls in plek te stel om die beskikbaarstelling van noodlenigingsfinansiering op ’n deursigtige en verantwoordbare wyse te verseker. Ons vertrou dat die betrokke portefeuljekomitee van die Nasionale Rampbestuursentrum (NDMC) en die kantoor van die ouditeur-generaal hul rol in dié verband sal speel.

Agri SA sal voortgaan om die situasie te monitor en lede ingelig gou deur die organisasie se samewerking met die NDMC. Ons moedig boere aan om impak-assesserings wat deur die onderskeie provinsiale rampbestuursentrums verskaf word, te voltooi om te verseker dat die skade wat weens die gure weer gely is behoorlik verreken kan word.

Landbouweerkundige maan teen nog neerslae

Gegewe die nat toestande, meen die onafhanklike landbouweerkundige, Johan van den Berg, dat die meeste somergrane sonder veel verdere droogterisiko oesstadium sal bereik. Hy meen egter dat verdere swaar neerslae in die volgende week of twee dalk versuiptoestande tot gevolg kan hê. ʼn Ander probleem is die vloedrisiko in die Vaal-, Oranje- en Benede-Oranjerivier.

Van den Berg verduidelik dat die invloei in die damme van die Vaal- en Oranjerivier tans redelik sterk is. Die verwagting is egter dat dié riviere nie te hoë vlakke gaan bereik nie, omdat die meeste reënval in die opvanggebiede van die meer noordelike riviere voorgekom het met afvloei na die Indiese Oseaan.

Van den Berg voorspel reën vanaf 15 tot 18 Februarie vir die Noordwes, die oostelike dele van die Noord-Kaap, die hele Vrystaat, Gauteng, Limpopo, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en selfs dele van die Oos-Kaap. Hy waarsku dat swaar neerslae en vloedtoestande kan voorkom. 






Related Articles