Agri SA soek nuwe uitvoerende hoof

  • 16 Februarie 2023
  • 670
  •  Agri SA
  •  
  •  persverklaring



Agri SA het met ʼn proses begin om ʼn nuwe uitvoerende hoof te soek na Van der Rheede aangekondig het dat sy heeltydse betrokkenheid oor ʼn jaar tot ʼn einde gaan kom, as hy die ouderdom van 60 bereik. Volgens Van der Rheede was dit ʼn voorreg om die landbousektor die afgelope sewe jaar in verskillende hoedanighede te kon dien.

Die organisasie het gevolglik ʼn kennisgewing uitgestuur waarin belangstellendes genooi word om ʼn nuwe uitvoerende hoof te benoem.

Jaco Minnaar, president van Agri SA, verduidelik dat Van der Rheede in ʼn nuwe rol binne Agri SA ingespan sal word, terwyl hy ook die nuwe uitvoerende hoof sal bystaan tot sy uittrede. Agri SA se direksie het die proses begin om ʼn geskikte kandidaat te soek en ʼn komitee is aangestel om die proses te bestuur.

So sal werwingproses verloop

Die onderneming Signium Africa is aangestel om die komitee by te staan. Minnaar sê terwyl die proses aan die gang is, sal geen inligting met enige belanghebber gedeel word nie. Die direksie sal ʼn aankondiging doen sodra hy die suksesvolle kandidaat goedgekeur het.

In die soektog na ʼn geskikte kandidaat word die pos intern en ekstern geadverteer. Signium Africa doen ook sy eie navorsing en almal word genooi om kandidate te benoem wat vir die pos geskik sal wees. Benoemings kan tot 13 Maart 2023 direk aan Signium Africa verskaf word met die kandidaat se naam, posisie en werkgewer, asook kontakbesonderhede en die beroepsagtergrond van die persoon.

Mense word egter gevra om nie die kandidate wat hulle wil benoem direk te nader nie, sodat daar nie verwagtinge geskep word nie. Die proses sal deur Signium Africa behartig word.

Die vereistes waaraan ʼn kandidaat moet voldoen, sluit in:

  • ʼn Meestersgraad in politieke administrasie en openbare leierskap, of MBA of MSc in landbou-ekonomie of ander relevante kwalifikasies.
  • Agt tot tien jaar ervaring op senior bestuur- en raadsvlak.
  • ʼn Bewese beroepsgeskiedenis in leierskapsrolle sowel as strategiese- en besluitnemingsposisies op korporatiewe en bedryfsvlak.
  • Kennis en ervaring van die landbousektor.
  • Deeglike kennis en ervaring van regeringstelsels en prosesse, asook die ekonomie en die landbou-ekonomie.
  • Die vermoë om neigings op politieke, ekonomiese, maatskaplike, tegnologiese, omgewings en regsvlakke – wat die landbou kan raak, te identifiseer en te bepaal wat die strategiese rigting is wat Agri SA moet inslaan om risiko’s te verminder.
  • Die vermoë om strategiese beleidsopsies holisties te beskou en dit in resultate te omskep deur goeie bestuur.
  • Die vermoë om interaksie met ander belanghebbers in die bedryf, asook hooggeplaastes te handhaaf.
  • Die vermoë om doeltreffend te onderhandel en konflikte te hanteer met oopheid en ontvanklikheid.
  • Die vermoë om goeie mediaverhoudinge te handhaaf en om belangrike kwessies vir die landboubedryf in die media te hanteer, openbare persepsies van die landbou gunstig te beïnvloed en ʼn bewustheid van landbou se belangrikheid te skep.
  • ʼn Goeie kommunikasievermoë in Engels en Afrikaans. 

Christo van der Rheede.





Verwante Artikels