Aanbreek van lente met bibberweer gevier

  • 27 August 2021
  • 1409
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Reën

Volgens Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, dui voorstellings daarop dat kouefronte van 26 tot 28 Augustus en in die eerste twee weke van September reën na die Wes-Kaap, maar veral na die Suid-en Oos-Kaap sal bring. Reën kan ook gedurende die eerste week van September oor die sentrale, maar veral die oostelike en suidoostelike binneland voorkom.

Sneeu en ryp

Volgens Van den Berg is sneeu in Augustus nie ʼn ongewone verskynsel nie aangesien dit steeds koud genoeg is, terwyl daar ook reeds ʼn mate van vog vanuit die trope of die Indiese Oseaan oor die land inbeweeg.

Met die huidige stand van die Indiese Oseaan word vog direk weswaarts ingevoer met oostewinde, terwyl kouefronte oor die suidelike dele van Suid-Afrika noordooswaarts oor die kusgebiede beweeg.

Van der Berg verduidelik dat daar saam met die verdere kouefronte wat oor die volgende vier weke verwag word ook temperatuurdalings met ryp oor veral die sentrale tot suidelike dele van die Vrystaat, die Noord-Kaap, die Oos-Kaap en die Hoëveld van Mpumalanga kan voorkom. Dié toestande geld veral vir die laaste paar dae van Augustus en gevolglik is die risiko groot vir rypskade.

Kleinveeprodusente word veral gemaan om korttermynweervoorspellings in die komende weke dop te hou omdat koue, nat en winderige toestande ʼn groot gevaar kan inhou vir kleinvee, veral as hulle geskeer is.

Invloed van die La Niῇa-stelsel

Op die langer termyn meen Van den Berg dat die ontwikkeling van ʼn La Niῇa-verskynsel al hoe waarskynliker raak.

Tans is die kans 70% dat ʼn swak tot matige La Niῇa-verskynsel vanaf ongeveer September en/of Oktober gaan begin voorkom. Dit is volgens Van den Berg die normale tyd vir die ontwikkeling vir El Niῇo- of La Niῇa-verskynsels en dit behoort ook dan aan te hou tot ongeveer die herfs van 2020.

Die veranderlikes van die Indiese Oseaan is voorts tans baie gunstig vir somerreën en dit kan ook aanleiding gee tot ʼn vroeër aanvang van somerreënval.

Van der Berg verduidelik dat ʼn kombinasie van ʼn La Niῇa-verskynsel en ʼn negatiewe fase van die Indiese Oseaan-dipool, soos wat tans aan die gang is of voorspel word, baie gunstig is vir somerreënval. Voorspellings dui tans aan dat die baie droë dele van die Oos-Kaap redelike goeie tot swaar neerslae in die lente en vroeë somer kan kry. Daar is ook ʼn kans op baie swaar neerslae vanjaar wat tot oorstromings plek-plek kan lei. 






Related Articles